
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, het pres. Jacob Zuma in ’n brief gevra om die beskerming van private eiendomsreg toe te pas. Meintjes het in die brief verwys na onlangs voorvalle in en om Pretoria waar lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) grond onwettig beset het en waar die Tshwane-metropolisie vinnig en beslis opgetree het.
Luidens ’n verklaring van die TLU SA het hy aan Zuma geskryf dat hoewel regmatige veranderings in grondeienaarskap sedert 1994 as wettig beskou word, kan sommige van die onbedoelde gevolge nie in dieselfde lig beskou word nie. “Die gereelde oproep tot toegang tot grond en die verhoogde bewustheid van die grondkwessie skep stimulus vir onwettige aksies wat die potensiaal vir nasionale destabilisasie het.”
Meintjes sê in die brief nie alle grondeienaars kan verseker wees dat wetstoepassingsagentskappe so vinnig en beslis soos Tshwane s’n sal reageer wanneer eiendom onwettig beset word nie. Hy benadruk dat as die staat nie burgers se eiendomsreg beskerm nie, ’n statutêre vakuum kan ontstaan en dat eiendomseienaars hul tot die gemene reg kan wend om lewens en eiendom te beskerm. Dit kan op lang termyn uiters negatiewe gevolge vir die land as geheel hê.