
'n Klopjag op die kantore van die nege grootste markagentskappe op die Johannesburg en Pretoriase Varsproduktemarkte is deur die Mededingingskommissie uitgevoer.
Hierdie agentskappe, wat nagenoeg 80% van die volume op dié twee varsproduktemarkte verhandel, word deur die kommissie daarvan verdink dat hulle ’n kartel gevorm het met die doel om die kleiner, swart agente van die mark te dryf en die prys van varsprodukte op te jaag.
Verder voer die kommissie aan dat hierdie agentskappe saamgesweer het om die kommissie wat hulle van boere vereffen, onwettig op 7,5% vasgestel het.
Alle dokumente geneem
Die Mededingingskommissie het alle dokumentasie, inligting en data van die agentskappe geëis en het op Vrydag 24 Maart ook die kantore van drie agentskappe in Durban en drie agentskappe in Kaapstad besoek met dieselfde aanklagte en eise.
Volgens mnr. Deon van Zyl, verkoopsdirekteur van die RSA Markagentskap, het die agente hul volle samewerking gegee. “Ons het niks om weg te steek nie. Ek glo, ná hierdie ondersoek, sal dit baie duidelik aan die lig kom dat ons as markagente ’n skoon rekord het, ongeag die voortdurende klagtes en aantygings teen ons.
Werk op marklvoere nie geraak
“Die goeie nuus is dat die aktiwiteite op die markvloere nie geraak word nie, dat die betalings aan boere nie deur hierdie ondersoek beïnvloed sal word nie en dat boere nie hoef bekommerd te wees oor produkte wat op die markte afgelaai word nie,” het Van Zyl gesê.
Volgens ’n Kaapse markagent, mnr. Chris Roux van die Subtropico-agentskap, wie se Kaapse tak nie deur die kommissie ondersoek is nie, is dit verregaande om markagente van kartelvorming te beskuldig. “Dis ’n hond-eet-hond-bedryf en ons is uiters mededingend. Selfs as ons agente van verskillende agentskappe ’n bier saam gaan drink, is dit om inligting te kry wat ons ’n mededingende voordeel op die mark sal gee. Boere onderhandel ook die kommissie sterk met ons. As hulle goeie volumes deur die jaar kan lewer, dan onderhandel ons ’n laer kommissie vir hulle,” sê Roux.