Mnr. S’bu Ndebele, Minister van Vervoer, se besluit dat die voorgenome nuwe tolpaaie vir eers van die baan is, is met vreugde uit talle oorde begroet.
Die burgerregte-inisiatief AfriForum het Ndebele se aankondiging as ’n oorwinning vir burgerregte bestempel. AfriForum voer reeds geruime tyd ’n veldtog teen die heffing van tolgelde.
Gekant teen planne
AfriForum is onder meer sterk gekant teen die tariefstruktuur vir Gautengse tolpaaie wat onlangs deur die Kabinet goedgekeur is.
“AfriForum meen dit is skandalig dat, volgens die mees onlangse kabinetsproses, gewone motoriste die grootste las moet dra om die tolpaaie te finansier.
"Dít terwyl taxi’s en busse vrygestel is van toltariewe en die afwaartse aanpassing van die tariewe wat aanvanklik voorgestel is, persentasiegewys aansienlik groter is vir swaar voertuie as vir gewone motors,” sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.
Groot koste vir landbou
Agri SA het vroeër bekend gemaak dat die aanvanklike toltariefvoorstelle die landboubedryf se vervoerkoste met tussen R6 miljoen en R8 miljoen sou laat styg.
Dié bykomende koste sou uit die tamatie-, uie-, aartappel- en piesangbedryf se sak gekom het.
Intussen het die Vryheidsfront Plus ook Ndebele se besluit verwelkom. Die VF Plus het sy tevredenheid uitgespreek teenoor die besluit van die regering om nog ’n taakspan aan te stel om die Gauteng-tolprojek verder te ondersoek.
“Dit is egter jammer dat die publiek geen verteenwoordiging in daardie komitee het nie, maar dit is verblydend dat die Adjunkminister van Vervoer, mnr. Jeremy Cronin, erken het dat die tolstelsel nie sinvol is as metode om die land se nuwe paaie en instandhouding te finansier nie,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Ekonomiese impak
Die DA die besluit verwelkom en gewaarsku dat as die planne vir toltariewe sou voortgaan, die ekonomiese impak gevoel sou word.
“Ons sal voortgaan om standpunt in te neem vir die miljoene wat deur hierdie stelsel benadeel sal word,” het me. Janet Semple, DA-LP, in ’n verklaring gesê.
“Mense sal hul werk verloor, lewenskoste sal toeneem en die gemarginaliseerde lede van ons samelewing sal gevra word om meer te betaal.”
24 Oktober 2011