
Dié simposium word vir die derde keer in Bloemfontein, op 29 April 2015, aangebied, en word deur prof. Dorian Garrick, ’n dierkundige van die Universiteit van Iowa geopen. Garrick is ’n direkteur van die Verenigde State van Amerika se nasionale vleisbees-evaluasie-konsortium wat op die genetiese verbetering van vleisbeeste toegespits is en onder meer bestaan uit navorsers van drie universiteite.
Die tema van die simposium is die toegevoegde voordele van diere-aantekening. Ander besprekings behels ook die praktiese waarde van genomika vir die groter veebedryf, die stoetbedryf binne die huidige polities-ekonomiese omgewing en die aanwending van aangetekende data ter bevordering van optimale bestuurspraktyke.
Die simposium-fooi van R500 per persoon sluit verwysingsmateriaal en ’n ligte middagete in. Kontak mev. Sherri van Zyl by 051 410 0900 (epos: sherri@studbook.co.za) vir besprekings.
Die simposium is die hoogtepunt van Stamboek se Elite-feesvierings wat tydens Bloemskou in die stad aangebied word. Vleissentraal se bulgroeitoetsklas word die vorige dag, op 28 April, op die skouterrein aangebied. Die wenners van dié klas dieselfde aand op Stamboek se galadinee vereer, saam met die ontvangers van platinum-toekennings vir die jaar se Elite-koeie en –bulle.
Ander toekennings op dié spoggeleentheid is die aanwysing van die kudde van die jaar ten opsigte van vleis- en suiwelbeeste, kleinvee, varke en perde. ’n Wildboer van die jaar word ook in ’n nuwe kategorie aangewys.