Die volgende 20 jaar gaan die beste jare wees wat die landboubedryf nog gesien het, met voedsel as die goue sleutel, sê mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid.
Janovski het op die 2012 Nampo-oesdag buite Bothaville gesê voorspellings word gemaak dat die wêreld in die toekoms oorloë oor water gaan sien.
“Ek voorspel dit gaan oor voedsel wees, want voedsel gaan voortaan die wêreld aanvuur en die boer moet homself daarvoor posisioneer.”
Janovsky sê hoewel goeie jare vir die landbou voorlê, beteken dit nie dat die rit nie sonder stampe en stote sal plaasvind nie. Gebeure in die ontwikkelde wêreld kan ’n wisselvallige rand-dollar-wisselkoers tot gevolg hê, en verbruikers in dié wêrelddele gaan oor die volgende paar jaar meer en meer finansiële druk begin ervaar.
Die opbloei wat in ontwikkelende lande plaasvind en die gevolglike toename in voedselverbruik, sal tot die boer se voordeel wees, meen Janovsky. Wat ’n wisselvallige wisselkoers betref, voorspel hy dat die rand in komende maande binne die band van R7,50 tot R8,50 teenoor die dollar kan beweeg.
Amerika
Intussen sê me. Sudakshina Unnikrishnan, ’n direkteur vir kommoditeitsnavorsing by die bank Barclay’s, markte moet daarmee vrede maak dat kommoditeitspryse oor die volgende drie tot vyf jaar wisselvallig sal wees.
Sy sê ’n rekord-mielie-oes, die grootste in 75 jaar, word vanjaar in Amerika verwag. Sowat 87% van dié oes is reeds aangeplant. “Derhalwe verwag ons dat mieliepryse teen middel vanjaar weer sal begin daal.”
Volgens Unnikrishnan word die grootste gedeelte dié land se mielievoorraad tans vir die produksie van etanol gebruik, terwyl gebruik vir veevoer tweede in die ry staan. Sy verwag dat dít ook ’n verdere invloed op pryse kan hê.
16 Mei 2012