
Die kompetisie, met die doel om jong skrywers aan te moedig om oor die landboubedryf te skryf, het vanjaar inskrywings van buitengewoon hoë gehalte ontvang, het mnr. Andries Wiese, nasionale sake-ontwikkelingsbestuurder en landbouhoof by Hollard Insure, gesê.
“Met min mediahuise wat uitsluitlik op die landbou gemik is, is dit belangrik om nuwe skrywers te ontgin om mediadekking aan een van die grootste bedrywe in die land te gee. Een van die beste maniere om die boodskap van Suid-Afrika se uitgebreide en ingewikkelde landboubedryf uit te dra, is deur gehalteskryfwerk” het Wiese gesê.
Die kompetisie het vanjaar bestaan uit twee kategorieë, een vir tegniese en een vir nie-tegniese skryfstukke. Die wenners het elkeen R5 000 ontvang met die tweede en derde pryse van onderskeidelik R3 000 en R2 000. Finaliste het elk R1 000 ontvang.
Me. Rachel du Preez, ‘n grondkundige by NWK, het vanjaar die tegniese afdeling gewen met ‘n artikel wat grondsuurheid en die regstelling daarvan behandel het. Tweede was me. Heleen Viljoen, junior ekonoom by Graan SA, met ‘n artikel oor mielie-uitvoer. Die derde plek is gedeel deur Viljoen en mnr. Christiaan Vercueil, ook ‘n junior ekonoom by Graan SA, met ‘n artikel oor produsente se rol in voedselprysstygings.
In die nie-tegniese afdeling het me. Michelle Marais, verbonde aan die landboumaatskappy RusselStone, met die louere weggestap. Haar artikel het gehandel oor die belangrikheid van jeugbetrokkenheid in die landbou. Die tweede plek het gegaan aan me. Karen Truter vir haar artikel oor die toekoms van die landbou, terwyl me. Ruth Hadebe, ‘n landboustudent wat ‘n artikel oor vars produkte en die landbouwaardeketting ingeskryf het.
“Dit is ongelooflik dat vanjaar se inskrywings almal sterk verbintenisse met die landbou het, en die geesdrif wat elke inskrywing vir die bedryf het, was duidelik in elke artikel,” het Wiese gesê. “Die standaard was werklik uitstekend en die diversiteit van onderwerpe vanjaar was verstommend.”
Hy het gesê dat Hollard, saam met sy vennote Farming Portal en Landbouskrywers SA in die kompetisie, is trots om ‘n belngrike rol in die kompetisie te speel. “Meer kennis van die landbou is goed vir elkeen wat in die landbouwaardeketting betrokke is. Dit help ook om ‘n beter toekoms vir elke Suid-Afrikaner in die hand te werk,” het hy gesê.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.