
Hy is verlede week aangewys as die beste van die bestes uit agt finaliste na ’n intensiewe beoordelingsproses. Van Zyl het ’n MSc (Agric) Landbou-ekonomie graad met lof verwerf en boer in die Wolmaranstad-omgewing met mielies, sonneblom, vee en bedryf ook ’n voerkraal.
“ ’n Besondere kenmerk van Sakkie is sy positiewe denke en sy energieke passie vir die landbou. Hy is ’n waardige rolmodel vir ander toetreders tot die landbou om na te volg,” sê dr Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se Algemene Sakekamer.
Volgens de Jager is die finaliste van dié kompetisie nie net suksesvolle boere nie, maar ook bekwame besigheidsmanne wat reeds gewys het dat hulle in staat is om die landbou se uitdagings die hoof te bied en die toekoms met realisme en vertroue aan te pak.
“Die gehalte van die finaliste in die kompetisie was uitnemend. Enige iemand wat die landbou ken sal saamstem dat daar nie plaasvervangers is vir kennis, ervaring en goeie oordeel om van ’n boerdery ’n sukses te maak nie. Die kompetisie dra by tot die ontwikkeling van hierdie vermoëns en vertel die suksesverhale van jongboere” sê de Jager.
Die ander finaliste was: Agri Limpopo, mnr. Zander Ernst; Agri Wes-Kaap, mnr. Jaco du Toit; Agri Oos-Kaap, mnr. Boertjie Nel; Vrystaat Landbou, mnr. Boeboe Louw; Mpumalanga Landbou, mnr. Charles Hodsdon; Agri Gauteng, mnr. Paul du Plessis; en Kolver Mülke van Agri Noord-Kaap.
Passie, innoverende bemarkingstrategieë en gemeenskapsbetrokkenheid het mnr. Trevor Abrahams, ’n sagtevrugte-, groente- en lewendehaweboer van Ceres in die Wes-Kaap die wenner gemaak van die Toyota SA New Harvest van die jaar kompetisie. Beide Van Zyl en Abrahams het elk ’n 2.5 diesel enkelkajuit Toyota Hilux bakkie as prys ontvang.