
Pryse het op die laaste veiling van die seisoen effens verswak en Cape Wools se Merino-aanwyser het 1,7% laer op R94,11/kg (skoon) gesluit.
Hoewel wolpryse oor die laaste paar weke begin terugsak het, was hierdie een van die beste seisoene in dekades met pryse wat rekordvlakke bereik het. Die aanwyser was ook vir ‘n groot deel van die seisoen hoër as R100/kg. Die hoogste vlak van die seisoen was R105,15/kg wat op die eerste veiling van die seisoen aangeteken is.
Dit was egter ‘n teleurstellende seisoen vir fynwolprodusente. Pryse vir dié tipes het in veral die laaste deel van die seisoen skerp teruggesak as gevolg van ‘n groot aanbod en laer vraag uit Europa en Amerika, die grootste fynwolverbruikers, as gevolg van die Europese skuldkrisis. Medium en selfs van die sterker, lang vagwol het goeie pryse behaal.
Lang vagwol van gehalte was hoog in aanvraag en het goeie pryse op vandeesweek se veiling behaal. Die rand was feitlik onveranderd vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige veiling twee weke gelede.
Dit was ‘n groot veiling met 12 424 bale wat aangebied is waarvan 94% verkoop is.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron styg met 1,2% tot R107,90/kg, 19 mikron verswak met ‘n geringe 0,1% tot R106,10/kg, 20 mikron was 1,6% goedkoper op R100,43/kg, 21 mikron daal met 2,4% tot R99,18/kg en 22 mikron styg met 0,3% om op R100,85/kg te sluit.
Die eerste veiling van die nuwe seisoen is vir 15 Augustus geskeduleer.