
Mielieboere moet die risiko's van 'n wisselvalige mielieprys deur strategieë vir prysverskansing en verbeterde oesopbrengs bestuur, sê me. Linda van der Merwe, hoof van kliëntebemarking by Syngenta Suid-Afrika.
Volgens haar is daar geen tekens dat die druk waaronder die mielieprys is binne die volgende 18 maande gaan verlig nie. “Boere sal die risiko's wat dit vir hul winsgewendheid inhou, moet bestuur deur 'n holistiese strategie wat verskansingstrategieë asook gevorderde oesbeskerming vir die optimalisering van hul opbrengs insluit.”
Suid-Afrika produseer gewoonlik jaarliks 10 tot 12 miljoen ton mielies op 2,5 miljoen hektaar, terwyl hierdie jaar se rekordoes 14 miljoen ton groot is, wat een van die redes is waarom die prys onder druk is.
Van der Merwe sê Syngenta glo landbouproduktiwiteit moet verhoog word om die wêreld se bevolking te voed, wat met 200 000 mense per dag groei. “Syngenta se doelwit is om die gemiddelde produktwiteit van die wêreld se belangrikste gewasse - sonder die gebruik van meer grond, water of produksiemiddele - met 20% te verhoog.”
Van der Merwe sê die koste van boere se produksiemiddele styg en hulle het daarom toegang nodig tot innoverings in saad- en oesbeskerming om hul beleggings te beskerm en produksie te verhoog.