
Die nuwe restitusieproses behoort minder chaoties as die vorige een te wees, met eise vir grond wat van die begin af op rekenaar vasgelê sal word.
Met die vorige eisproses wat deur die Wet op die Herstel van Grondregte van 1994 in die lewe geroep is, het die destydse Departement van Grondsake en die Kommissie op die Herstel van Grondregte ernstige logistieke probleme met die uitvoering van restitusie-eise ervaar.
Geen eenvormige administratiewe benadering het tussen die onderskeie grondeisekommissies gegeld nie. Met ontvangs was ’n eis in ’n tydelike ontvangslêer geplaas. Dit is dan vir volledigheid nagegaan en daarna is ’n eisnommer toegeken. Daarna is die besonderhede op rekenaar ingesleutel en in ’n distriksrekord-register opgeneem. Maar nie alle kantore het data op rekenaar vasgelê nie.
In 2012 het mnr. Tele Maphoto, die destydse waarnemende hoofgrondeisekommissaris, aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê dat die departement nie ’n volledige databasis met die besonderhede van alle plase wat oorgedra is het nie en ook nie alle inligting oor die titelaktes nie. ’n Stelsel is toe daarvoor ontwikkel.
Oor hoe die nuwe proses hanteer gaan word, het me. Nomfundo Gobodo, hoofgrondeisekommissaris, gesê elke provinsie het ’n taakspan aangestel wat al die logistiek, menslike hulpbronne, inligtingstegnologie, kommunikasie en ander kwessies hanteer.
Indien pres. Jacob Zuma die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte teken, sal die eisproses vir ’n verdere vyf jaar heropen word.
Volgens Gobodo sal eisers se inligting op die rekenaar vasgelê word, die eisvorm sal uitgedruk word sodat die eiser dit kan teken en hierdie vorm sal met die eisdokumente (ondersteunende dokumentasie) geliasseer word. Die eisdokumente sal ook geskandeer en elektronies geberg word.
Die eiser sal dan ’n unieke verwysingsnommer kry wat die rekenaarstelsel outomaties genereer, verduidelik Gobodo in die kommissie se 2013/’14 jaarverslag. Die stelsel sal ook outomaties ’n eisregister skep, wat toeganklik is.
Aanvanklik sal eise by 14 plekke in die land ingedien kan word. Dit is in Pretoria, Nelspruit, Witbank, Polokwane, Bloemfontein, Kimberley, Oos-Londen, Queenstown, Kaapstad, George, Pietermaritzburg, Vryheid, Mmabatho en Vryburg. ’n Bykomende 38 plekke waar eise ingedien kan word, word ook beplan.
Elke provinsie sal ook ’n mobiele-eenheid kry. Ontwikkelingsekonome het bepaal dat die koste vir die verwagte 397 000 nuwe grondeise tot R180 miljard kan wees as dit binne 15 jaar afgehandel word.