
Die benutting van ontwikkelende tegnologie sal na verwagting ‘n aansienlike verbetering in opbrengste meebring, terwyl dit net ‘n beperkte, groter impak op die hulpbronne sal uitoefen, volgens mnr. Christopher Nolan, medehoof van voedsel, drank en landboubesigheid van PricewaterhouseCoopers in New York, Amerika.
Hy het op die tiende Grootkuddekonferensie by Winterton in KwaZulu-Natal gesê benewens die groot groei in die wêreldbevolking en die gevolglike vraag na kos, is dit ‘n bron van kommer dat meer as ‘n miljoen mense weekliks na stede verhuis.
Daar is reeds 31 megastede met ‘n bevolking van meer as tien miljoen mense op aarde. Sowat 1,5 miljard mense gaan in die volgende 15 jaar na stede trek.
Akwakultuur en hidroponika
“Die vraag is hoe ‘n bevolking gevoed kan word, wat grootliks in ‘n stedelike omgewing woon. ‘n Verandering in produksie en verspreiding sal nodig wees om die kos vanaf die plase na die stede te neem,” het Nolan gesê. Hidroponika (produksie van kos sonder grond) en akwakultuur (produksie van voedsel soos vis en plante in beheerde toestande) kan daarmee help.
Die landbou het voor die realiteit van ‘n skaarsste aan hulpbronne te staan gekom. Dit verg 1 200 liter water om 1 kg graan te produseer, terwyl 1,8 kg tot 6 kg graan nodig is om 1 kg proteïen op te lewer, afhangende van die proteïen. Die landbou is reeds die grootste verbruiker van water op aarde.
Hy het gesê gelukkig sorg deurbrake in nano-tegnologie en ander gevorderde tegnologie dat die opbrengspotensiaal styg. ‘n Kombinasie van onder meer die internet, mobiele toestelle en data-ontleding sal die wêreld verander. Tegnologie ontwikkel ál vinniger en word gou deur mense aanvaar. Dit kan help om voedselproduksie te bevorder.