
Landbou-uitvoer uit die Wes-Kaap moet gestimuleer word om groei en ontwikkeling in die provinsie ’n hupstoot te gee sodat hongersnood en armoede verlig kan word.
Mnr. Gerrit van Rensburg, minister van landbou in die Wes-Kaap, sê dié provinsie lýk dalk soos die land van melk en heuning, maar dit is nie waar nie.
“Daar is mense in die Wes-Kaap wat honger ly,” het hy gesê.
Van Rensburg was ’n spreker by Landbouweekblad se ekspo op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
Toelaes nie die antwoord
Hy sê dit is veral mense in die Kaapse metropool wat gereeld honger ly.
“Ons moet hierdie honger probeer wegwerk, en hoe gaan ons dit doen? Dit is belangrik dat ons ons uitvoer stimuleer, want dit is hoe ons vir hierdie honger mense gaan werk skep. ’n Mens verlig nie armoede deur maatskaplike toelaes uit te deel nie.
"Jy verlig armoede deur werk te skep. Daar moet ’n net wees vir die armstes van die armes, maar ons moet pasop dat die ry nie te lank raak met mense wat nie wil werk nie.”
Van Rensburg sê as die sagtevrugtebedryf se uitvoer met 5% verhoog kan word, kan 4 261 nuwe werkgeleenthede geskep word. Vir die tafeldruifbedryf is dié syfer 2 073.
Uitvoerbestemmings
Die totale landboubedryf in die Wes-Kaap kan ’n bykomende 9 505 werkgeleenthede skep. Dit sal sorg vir 13 000 nuwe werkgeleenthede in die sekondêre mark.
Brittanje, Duitsland, Swede, Nederland en Kanada tel onder die Wes-Kaap se vernaamste uitvoerbestemmings. “Ek dink dit is deel van die probleem,” meen Van Rensburg.
“Dit is markte wat op die oomblik baie swaar kry. Lande, soos China, Indië en Estonia, se bruto binnelandse produk het die afgelope tyd baie vinnig gegroei. Dit is die lande wat groei en vir ons die vraag skep. Ons moet daarheen uitvoer.”
2 April 2012