
Tog het die sektor in die vierde kwartaal van 2022 vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in 2021 kop opgetel en met 10,6% gegroei.
Op ’n seisoensaangepaste grondslag het die landbousektor vanaf die derde kwartaal tot vierde kwartaal van 2022 met 3,3% ingekrimp. Hierdie afname was van die grootstes in die onderskeie sektore van die ekonomie.
Beurtkrag het boonop in die vierde kwartaal van 2022 vir bykomende probleme gesorg wat veral produksieprosesse van intensiewe bedrywe soos die pluimveebedryf en melkprodusente geraak het.
Die besproeiing van landbougewasse, wingerde en boorde het ook deurgeloop onder beurtkrag. In die waardeketting het beurtkrag die tydsberekening en uitset van produkte by pakhuise, verwerkingsaanlegte en koelgeriewe geraak.
Ten spyte van verskeie probleme het die bruto waarde van produksie van veldgewasse met 15%, diereproduksie met 13% en tuinbou met 2% gegroei. ’n Uiteensetting van die afsonderlike bruto waarde van produksie van bedrywe in die landbousektor kan redes bied waarom die sektor die 10%-vertoning in die vierde kwartaal ervaar het.
Diereprodukte
Ondanks vele struikelblokke het diereproduksie in 2022 met 13% gegroei. Hierdie groei is ondersteun deur ’n styging van 26% in die bruto waarde van varkvleis. Daar is wel minder varke (-2%) in die vierde kwartaal van 2022 geslag as die vergelykbare tydperk in 2021, maar die varkvleisprys het steeds met 26% gestyg vanaf gemiddeld R25,49/kg in 2021 tot R32,14/kg in 2022.
Die hoeveelheid beeste wat in die vorige kwartaal geslag is, het ook gedaal (-7%) teenoor 2021 se vierde kwartaal, maar die prys van beesvleis het met 11% tussen dié twee tydperke gestyg.
Gewasse se vertoning in vierde kwartaal
Met die grootste produsentelewerings van die somergewasse in die tweede en derde kwartaal van die jaar was ongeveer twee derdes van die groei in veldgewasse se bruto waarde van produksie as gevolg van bydraes van koring (50%), kanola (10%) en gars (6%).
Hierdie groei in wintergewasinkomste is grootliks gesteun deur hoër pryse en nie hoër opbrengste nie. Hoewel lewering van gars in die vierde kwartaal van 2022 met 9% vergeleke met dieselfde kwartaal in 2021 gedaal, het pryse met byna 20% gestyg.
Uiepryse styg
Die prys van uie was drie keer hoër in die vierde kwartaal van 2022 teenoor die vorige vergelykbare tydperk. Dié hoër pryse was egter nie vir ander groot plaaslike verhandelde groente en vrugte beskore nie.
Vooruitsigte vir 2023
Sterk inkomste is ’n aanduiding van voortgesette hoë pryse wêreldwyd, maar baie van die probleme wat die landbousektor in die gesig staar, hou verband met stygende koste wat reeds het, en sal voortgaan om bruto binnelandse produk (BBP) te verswak.
Dus, al het inkomsteprestasie in diereprodukte en veldgewasse in 2022 sterk vertoon, bly insetkoste styg en dit sal voortgaan om druk op marges te plaas. Erge kontantvloeibeperkings, saam met die verreikende impak van beurtkrag, sal waarskynlik bemarkbare volumes beïnvloed en gevolglik ook die inkomsteprestasie van baie landbouprodukte in 2023 raak.
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) verwag die landbousektor sal gedurende 2023 gedemp bly weens stygende koste, terwyl ander kwessies soos haweprobleme vanjaar steeds ’n realiteit gaan wees.
Erge beperkinge op kontantvloei tesame met die wyduiteenlopende gevolge van beurtkrag gaan waarskynlik voortduur en volumes, en dus ook inkomste vir baie landbouprodukte, in 2023 raak.Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in die
vierde kwartaal van 2022 met 1,3% ingekrimp en vir ’n verrassende skok gesorg
aangesien heelwat kenners slegs ’n inkrimping van 0,4% voorspel het.
Die landbousektor het in 2021 groei van 8,8% behaal, maar verlede jaar het dit met slegs 0,3% gegroei, volgens BFAP – aansienlik minder as die twee voorafgaande jare.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.