
“Die impak van die voortdurende kragonderbrekings op die landbousektor en breë ekonomie hou ernstige implikasies vir voedselsekerheid en maatskaplike stabiliteit in. Beurtkrag dra by tot inflasie en kan tot gevolg hê dat boere minder aanplant weens stygende koste en onderbreking in aanplantskedules.
“Beurtkrag verhoog die koste van produksie vir boere in ’n tyd waar verdere voedselprysstyging Suid-Afrikaners in die gesig staar en verbruikers onder ongekende ekonomiese druk verkeer. Dit veroorsaak meer risiko’s en onsekerheid.”
Hy sê elektrisiteit is sentraal tot moderne boerderypraktyke en die onlangse toename in beurtkrag het boerderybedrywighede ernstig ontwrig. Pompstasies, besproeiing-, verkoeling- en ander stelsels is almal afhanklik van elektrisiteit.
“Sommige boere het die middele om van die kragnetwerk af te beweeg, maar die meeste is nie daartoe in staat nie. Dit geld veral die kwesbaarste, kleinskaalse boere. Boere verbeur hul waterkwotas vir besproeiing wanneer die krag af is – ’n onverhaalbare verlies wat boerderye lamlê.”
Volgens Van der Rheede meld boere reeds aansienlike verliese weens verwerkingsmasjinerie, besproeiingstoerusting en ander masjinerie wat tot stilstand kom en skade ly as gevolg van kragonderbrekings. Daar word ook van plaaswerkers vereis om na-ure te werk aangesien noodsaaklike stelsels nie gedurende die dag beskikbaar is nie. “Oortydlone verhoog produksiekoste wat reeds toeneem.”
Vars produkte
Die kragonderbrekings veroorsaak ook vermorsing en finansiële verliese as gevolg van die impak op voedselopberging. “Kleinhandelaars begin om vars produkte af te keur – hoofsaaklik groente – vanweë vertragings in aflewering en ontwrigting van die koueketting. Hierdie probleem sal vererger gedurende die somer. Dit sal die hoeveelheid beskikbare voedsel verminder en die koste daarvan vir die verbruiker verhoog.”
Hy sê Agri SA bly verbind tot samewerking met alle belanghebbendes om voedselsekerheid in Suid-Afrika te verseker, maar dat dringend opgetree moet word. “Ons vertrou dat die presidensie stabiliteit en veiligheid by alle kragaanlegte sal prioritiseer. Aangesien hierdie aanlegte geag word as nasionale sleutelpunte, rig Agri SA ’n dringende versoek dat terreine van strategiese belang teen sabotasie beskerm word. Gewelddadige optrede en misdaad neem toe en dit is ’n neiging wat in landsbelang omgekeer moet word.”
Agri SA steun Eskom se besluit om sy hernubare energiekapasiteit spoedig te verhoog. “Die departement van minerale hulpbronne en energie het ’n belangrike rol te speel om die nodige beleidsinfrastruktuur gereed te kry sodat Eskom sy kapasiteit kan verhoog. Versuim om dit te doen, hou ernstige ekonomiese risiko’s vir Suid-Afrika in, ook wat maatskaplike stabiliteit betref.”
Intussen het mnr. Ghaleb Cachalia, DA-LP, die regering gekap oor die feit dat Suid-Afrika met vlak 6-beurtkrag opgeskeep sit en die ekonomie tussen R500 miljoen en R700 miljoen per vlak van beurtkrag per dag verloor, maar onderskeidelik 15 189 GWh en 13 497 GWh krag in 2020 en verlede jaar aan buurlande verskaf is.
“Dit voel nie regverdig dat die ANC-regering krag aan hierdie lande verskaf ten koste van Suid-Afrikaners nie. Die DA sal mnre. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, skriftelik versoek om te verduidelik of Eskom steeds kontrakte het om krag gedurende die 2022-’23-boekjaar aan ander lande te verkoop. Hulle moet verduidelik hoe dié kontrakte geraak word, indien enigsins, as daar nie genoeg kragvoorraad vir plaaslike verbruik is nie.”