
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, sê beurtkrag kan volgende jaar se oes benadeel aangesien Augustus tot Oktober die belangrikste tydperk vir die besproeiing van sitrus is, want dit is wanneer die bome blom en vrugte maak.
“Die reënseisoen het in die meeste sitrusgebiede nog nie begin nie en frontale weer veroorsaak ekstreme hittegolwe wat beteken dat die bome volkome op besproeiing staatmaak. Die meeste besproeiingstelsels word deur elektrisiteit aangedryf en moet feitlik heeltyds werk om te verseker dat die bome die regte volume water elke week kry.
“Gegewe die gedesentraliseerde aard van pompstelsels op ’n tipiese plaas, is dit eenvoudig nie vir kragopwekkers moontlik om voldoende krag te voorsien nie. Indien boere weens beurtkrag nie hul besproeiingstelsels kan gebruik nie, sal die impak op volgende jaar se oes verwoestend wees.”
Verder beïnvloed beurtkrag ook die Durban-hawe, waardeur meer as 60% van Suid-Afrika se sitrus uitgevoer word. Volgens Chadwick het die meeste verkoelingsaanlegte die vermoë om die impak van beurtkrag te versag, maar dit kom teen ’n prys. “Dit is daarom noodsaaklik dat die verskillende probleme wat Eskom in die gesig staar, uit die weg geruim moet word en alternatiewe kragbronne so vinnig as moontlik tot die kragnetwerk gevoeg word.”
Dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van SA Suikerrietkwekers, sê namate die temperature begin styg, het suikerriet al hoe meer water nodig, maar voldoende besproeiing is onmoontlik sonder betroubare krag. “Die onderbreking van die kwekers se besproeiingsprogramme kan nie reggestel word nie. Die resultaat is dat gewasse stres ervaar, wat groei vertraag en plante meer vatbaar vir siektes maak.”
Hy sê die suikerrietbedryf is reeds in ’n moeilike ekonomiese posisie weens onder meer hoë insetkoste en die suikertaks. “Kwekers moet hul opbrengste en gehalte maksimaliseer om volhoubaar te bly. Dit kan nie sonder voldoende besproeiing gebeur nie. Kragstuwings kan pompe en besproeiingstoerusting ernstig beskadig, wat ’n koste vir die kwekers dra.”
Oortyd, pompstasies, onegalige besproeiing
Mnr. Nicol Jansen, ondervoorsitter van Agri SA, sê die voortdurende toepassing van beurtkrag op vlak 4 tot vlak 6 is ondraaglik vir die landbousektor, veral kragintensiewe bedrywe en bedrywe wat op besproeiing staatmaak. “Dit is vir dié bedrywe onmoontlik om beurtkrag te bestuur. Daar is eenvoudig nie genoeg pompure in ’n dag beskikbaar om in die vraag na water te voorsien nie. Verder is die koring op die stadium waar die opbrengspotensiaal gevorm word. Dit is ’n uiters belangrike stadium waartydens genoeg vog en bemestingstowwe beskikbaar moet wees.”
Hy sê weens die hoë vlakke van beurtkrag is die krag soms tot drie keer per dag vir tot vier en ’n half uur af. Twee van dié beurtkragsessies vind gewoonlik snags plaas en noodsaak dat boere in die nag hul pompstelsels en spilpunte weer aan die gang moet kry – ’n proses wat só lank kan duur dat dit nie altyd voor die volgende beurtkragsessie voltooi word nie.
Verder beland boere volgens hom in ’n situasie waar die toegelate werksure vir hul werkers oorskry word en werkers nie voldoende kan rus nie. Beurtkrag veroorsaak ook meer verstoppings in besproeiingstelsels wat nie snags sigbaar is nie en tot onegalige besproeiing lei. Dit kan veroorsaak dat gedeeltes van landerye glad nie besproei word nie.
“Beurtkrag bemoeilik ook die toediening van kunsmis omdat spilpuntstelsels agt tot tien uur nodig het om ’n siklus te voltooi. Daar is nie tans so ’n lang tydperk beskikbaar nie. Meer kunsmis moet ook bedags toegedien word wat verdere druk op arbeid plaas.”
Hy sê hoewel baie kapasiteit vir hernubare krag al in die landbousektor geskep is, kan dit nie tydens beurtkrag aangewend word nie omdat sonplase krag nodig het om wisselrigters aan te skakel en krag te lewer.
“Dus veroorsaak Eskom se beurtkrag dat die hernubare krag wat deur die landbousektor geskep word, nie tot die nasionale netwerk gevoeg kan word nie. Dit is vir die landbousektor ’n groot probleem aangesien hy wil bydra tot hernubare krag.”
Hy sê die landbousektor het Eskom versoek om die beurtkragskedule so aan te pas dat daar slegs twee sessies per dag is. “Dit sal baie druk op die sektor verlig as daar een lang tydperk sonder krag is pleks van drie korter tydperke.
“Uiteindelik is Suid-Afrika se onvermoë om voldoende krag te lewer ’n groot demper op ekonomiese groei en dit veroorsaak enorme skade aan die land se potensiaal ten opsigte van gewasproduksie. Dit is iets wat ons nie kan bekostig nie. Die landbou-ekonomie is nou onder groot druk weens hoë insetkoste. Die enigste voordeel wat die besproeiingsbedrywe het, die beskikbaarheid van water, word deur Eskom van hulle af weggeneem.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.