
Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) se jaarlikse Jack Human-bewaringsweek word vroeg Augustus in die Boland gehou.
Die konferensiedag vind op 1 Augustus op Elsenburg plaas, terwyl die praktiese dag op 3 Augustus by die Hoër Landbouskool Boland gehou word.
Drie buitelandse en Suid-Afrikaanse sprekers het reeds bevestig dat hulle die konferensie sal toespreek.
Dr. Ken Flower van die Universiteit van Wes-Australië in Perth is geen onbekende by Kaapse bewaringsboere nie. Hy gaan oor sy ondervindings met en navorsing oor verminderde en geenbewerking praat.
Dr. Wendi Taheri is eienaar van TerraNimbus, ’n Amerikaanse maatskappy wat navorsing doen oor die beste maniere om te bepaal of grond arbuskulêre mikorisaswamme bevat. Sy gaan op die konferensiedag oor mikorisa (swamme wat met wortels geassosieer is) praat en op die praktiese dag meer sê oor diversiteit onder die grond.
Die derde kundige by die konferensie is dr. Ronel Hendriks, hoof-wetenskaplike beampte van ABM Africa, waar sy die veldtoetse vir die registrasie van produkte doen. Sy gaan boere toespreek oor die belang van Trichoderma by die produksie van graangewasse.
Praktiese dag
Proewe wat by die praktiese dag op 3 Augustus by die Hoër Landbouskool Boland bekyk en bespreek kan word, sluit die volgende in:
• Kanola wat met teen saaidigthede van 1 kg/ha, 3 kg/ha en 5 kg/ha met tand- en skyfplanters geplant is,
• ’n Diversiteitsproef met dekgewasse wat een grasgewas, een peulgewas, drie gewasse en ’n veelvoudige mengsel met meer as tien gewasse insluit,
• Invoorbehandelingsproef met koring,
• Stikstof by die pit in koring en kanola met tand- en skyfplanters, en
• Organiese kunsmis op koring en kanola.
Hou landbou.com dop vir meer inligting oor sprekers uit die geledere van bewaringsboere.
Navrae en meer inligting: dr. Johann Strauss, e-pos: JohannSt@elsenburg.com, en webwerf by www.blwk.co.za.