
Herlewingslandbou was die passie van mnr. Hannes Otto (68) van die plaas Korannafontein by Ottosdal wat op Donderdag 26 Mei aan beenmurgkanker oorlede is. Otto was ’n stigterslid van die Ottosdal-bewaringslandbouklub en -studiegroep. Hy het sy kennis en ervaring ruimskoots gedeel met alle boere, klein of groot. Hy was ’n mentor vir verskeie boere en navorsers wat ná sy sukses in sy voetspore gevolg het
Hy was een van die eerste boere in Noordwes wat heeltyds bewaringslandbou begin beoefen het. Dit was in 2007, maar selfs voor dié skuif het hy begin eksperimenteer met geenbewerking nadat hy in Brasilië en Argeninië by kenners van dié metodes gaan kers opsteek het.
Hy het dikwels gesê die oorskakeling was uit noodsaak omdat hy besef het dat daar geen ander pad as herlewingslandbou is in ’n landstreek waar die reën gewoonlik in stortbuie val en die water slote so wyd soos ’n grootpad deur die kaal lande spoel nie. Hy het ook besef dat sy uitgawes as graanboer, veral aan insetkoste, onvolhoubaar hoog geraak het en was oortuig dat as dinge só aangaan, daar later nie grond of ’n nalatenskap vir die nageslag oor sal wees nie.
Otto het ’n Jumil-planter uit Brasilië ingevoer en geleidelik al hoe meer landerye oorgeskakel. Hy het gesien sy opbrengs was nie swakker as waar hy konvensioneel bewerk het nie en mettertyd het hy ook sy doelwit bereik om water- en winderosie te bekamp.
Hy het soveel sukses daarmee behaal dat hy tientalle ander boere in Noordwes geïnspireer het om ook herlewingslandbou te beoefen.
“Hy het die visie en die dryfkrag gehad om herlewingslandbou te maak werk in Noordwes waar min mense dit ’n kans gegee het,” sê mnr. Dirk Laas, huidige voorsitter van die Ottosdal-bewaringslandbouklub. Hy het Otto se dood as ’n groot leemte vir die gemeenskap bestempel en hom geloof as ’n leier met groot deursettingsvermoë wat nie teruggedeins het vir uitdagings nie.
‘Een van die heel grotes’
Sedert 2017 het Landbouweekblad saam met die Ottosdal-bewaringslandbouklub ’n jaarlikse bewaringslandboukonferensie aangebied en Otto was instrumenteel om hierdie konferensie suksesvol aan te bied. “Oom Hannes was een van die heel grotes,” sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad. “Nie net was hy ’n absolute voorloper met sy benadering tot bewerking en grondgesondheid nie, maar hy was ook altyd bereid om daardie kennis onbaatsugtig te deel. In dié opsig laat hy ’n ongelooflike nalatenskap agter as stigterslid van die Ottosdal-geenbewerkingsklub.
“Maar oom Hannes was bowenal ’n ware gentleman. ’n Man met groot respek vir die wysheid van die natuur en met diep empatie vir die wêreld en die mense om hom. Eienskappe wat hom ongetwyfeld nie net ’n uitmuntende boer gemaak het nie, maar ook ’n besonderse mens.”
In sy huldeblyk beskryf dr. Hendrik Smith, bewaringslandbou-fasiliteerder vir die Mielietrust, vir Otto as ’n baie innoverende mens wat altyd gesoek het na die beste praktyke op sy plaas, vir sy streek en vir sy mense. “Hy het intens ervaar hoe die grond op sy plaas agteruitgaan en besluit om bewaringslandbou te ondersoek en toe te pas. Daarmee saam het hy die Ottosdal-geenbewerkingsklub help stig en rondom 2010 as hoofbestuurder van die Ottosdal-streek by Graan SA die nodigheid van toegepaste navorsing in bewaringslandbou bevorder.”
Smith sê dit het alles gelei tot die skep van ’n doelgerigte navorsingsprogram oor bewaringslandbou wat deur die Mielietrust gefinansier is en deur boere en navorsers in plaasproewe nagevors en ontwikkel word.
“Dis waar ons paaie gekruis het, want in die proses moes ons, as navorsers, skouers skuur met die boere, en só word ’n mens baie goeie kollegas en vriende. Hannes se diep insig en visie het ons gehelp om die regte, goeie navorsing saam met die Ottosdal-boere te doen. Só het ons vanaf 2013 al oor die 80 proewe saam uitgevoer en verskeie boeredae en konferensies gehou (baie saam met Landbouweekblad), asook menige artikel gepubliseer. Hannes se gees en visie het ons wesenlik beïnvloed en geïnspireer; ons is dankbaar daarvoor en sal dit vir ewig koester.”
Die Otto-familie het ook diep spore in die Ootosdal-gemeenskap getrap, wat na hul oupagrootjie, GP Otto, genoem is, nadat hy die grond geskenk het waarop die dorp uitgelê is. Hy het ook 11 plase aan sy nasate agtergelaat.
Volgens Hannes se broer, dr. Quentin Otto, het Hannes in 1984 ná die dood van hul pa, ook Hannes, die boerdery op een van dié plase, Korannafontein, oorgeneem. Dit was in ’n ernstige droogte en Quentin sê dit was veral danksy Hannes se visie om na herlewingsboerdery oor te skakel, dat hy nie net sy eie nageslag se erfenis kon behou nie, maar selfs uitgebrei het. “Hannes was by uitstek iemand wat uit die boks gedink het en met groot deursettingsvermoë kon werk aan dit waarin hy geglo het.”
Otto word oorleef deur sy vrou, Ilse, sy seun, Johannes, en skoondogter, Marlize, sy dogter, Zelda, en skoonseun, Christo Delport, en drie kleinkinders.