
Die droogte in die westelike dele van die land het nie net ’n invloed op boere in die gebied nie, maar ook die res van die land. ’n Biddag vir reën word Vrydag, 31 Januarie, in Bloemfontein gehou om vir genadewater te vra.
“Ons is baie bekommerd oor ons mede-boere in die weste van Suid-Afrika wat nou 'n erge droogte beleef,” sê Angus Buchan, ’n boer van KwaZulu-Natal, wat die biddag sal lei.
Volgens Buchan raak die droogtetoestande almal. Hy meen dit werk ook vernietigend in op die dorpe en stede wat geraak word, asook die ekonomie en uiteindelik die hele land.
Alle groeperinge
Buchan versoek alle gelowiges, ondanks hulle verskillende oortuigings, om saam te kom by die Hoërskool Grey-kollege in Bloemfontein om vir reën te bid. Die saamtrek begin om 10:00.
Boere word aangemoedig om hul werkers saam te bring na die saamtrek toe. Plek is wel beperk, en gratis kaartjies kan by iTickets.co.za bespreek word. Vir verdere navrae skakel 0861000291 of 051 4440190, of stuur ’n e-pos na mmc@itickets.co.za.