
Die verwagte kommersiële mielie-oes is op 15,631 miljoen ton gestel, wat 7,54% of 1,095 miljoen ton meer is as die vorige skatting van 14,536 miljoen ton, aldus die Nasionale Oesskattingskomitee.
Dit is die grootste mielie-oes wat nog in die geskiedenis van SA geproduseer is, sê die komitee in 'n nuusverklaring oor die oppervlakte- en vierde produksieskatting. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,629 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,95 t/ha is – ook die hoogste opbrengs nog.
Die geskatte mielie-oes is ver groter as die 2016-oes, wat die kleinste oes sedert 2007 was. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 83% van die 2017-oes produseer.
Oppervlaktes
Die oppervlak onder wit mielies is 1,643 miljoen ha en vir geel mielies is die oppervlakte 985 500 ha.
Die produksieskatting van wit mielies is 9,467 miljoen ton, wat 9,84% of 848 400 ton meer is as die 8,618 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van wit mielies is 5,76 t/ha.
In die geval van geel mielies is die produksieskatting 6,164 miljoen ton, wat 4,17% of 246 950 ton meer is as die 5,917 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geel mielies is 6,25 t/ha.
Die opbrengs-bepaling per hektaar vir die Vrystaat en Noordwes is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die Nasionale Oesskattingskonsortium, gelei deur die LNR.