
'n Rekord-mielieoes in die 2014/'15-seisoen het die mielieprys van R3350/ton-vlakke in Januarie en Februarie vanjaar tot onder R2000/ton in Mei en Junie laat daal.
Mnr. Heiko Köster, veekundige en veevoerkonsultantvir verskeie voerfabrieke, maatskappye en ook die Amerikaanse graanraad, sê dit het reeds tot 'n daling in voerpryse gelei.
“Voerpryse behoort in Julie en Augustus teen 'n laagtepunt te verhandel, waarna dit tot einde vanjaar behoort te stabiliseer. Die grootste invloed op voerpryse vorentoe sal egter die fluktuering van die wisselkoers en internasionale kommoditeitspryse wees.”
Witmielies het teen druktyd teen laer pryse as geelmielies verhandel. “Die Suid-Afrikaanse dierevoermark het goed aangepas om heen en weer tussen die twee te skuif én dit reg te doen.”
Sojameelpryse sal na verwagting vir die volgende paar maande onder invoerpariteit wees, omdat Suid-Afrikaanse en internasionale ondernemings met nuwe sojameelpersgeriewe markaandeel wil wen.
Sojabone verhandel teen uitvoerpariteit, maar dit mag einde vanjaar en begin volgende jaar nodig wees om sojabone en veral sojameel in te voer.
'n Groot vraag na sonneblomsaad en laer aanplantings verlede jaar het 'n tekort veroorsaak. Meer hektare is egter vanjaar aangeplant wat pryse van saad redelik laat daal het. Pryse van sonneblommeel sal egter sojameel s'n volg.