
Die bierreus AB InBev het aangekondig dat hy R610 miljoen in die Suid-Afrikaanse landbou wil belê en in die proses 2600 ekstra werkgeleenthede in die landbou-waardeketting skep.
“Ons sal kleinskaalse boere ondersteun deur 800 nuwe opkomende boere en 20 nuwe kommersiële boere te finansier om hops, gars en mielies te produseer,” het mnr. Ricardo Tadeu, president van AB InBev se Afrika-sone, tydens die internasionale hopnetwerk-werkswinkel op George gesê.
Mev. Beverley-Anne Joseph, ’n voormalige hopsteler, het juis op 1 Maart eienaarskap geneem van Zelpy, ’n plaas met 20 ha hops in Waboomskraal naby George. Danksy ’n rentevrye lening van die SAB Thrive-fonds het sy die eerste swart vroulike hopsboer geword.
Gereed vir die geleentheid
“Ek is meer as gereed vir dié uitdagings, want ek wag al so lank vir so ’n geleentheid,” het Joseph aan Landbouweekblad gesê. In seisoentyd sal sy sowat 33 werkers in diens neem.
Me. Lauren Steytler, algemene bestuurder van SAB-hopsplase, sê Joseph behoort binne ’n paar jaar haar skuld te delg en sal dan geheel en al die plaas besit.
Wil entrepreneurs onwikkel
Mnr. John Rogers, AB InBev se Afrika-direkteur vir die verkryging van rou materiale en landbou-ontwikkeling, sê hulle wil voortbou op SAB se bestaande programme om swart entrepreneurs te bevorder en te ontwikkel. Hulle sal spesifiek op landbou en agro-verwerking fokus, deur onder meer plaaslike landbou-bestanddele in hul produksieprosesse te gebruik.
Buiten beleggings in navorsing en ontwikkeling, sal SAB ook prysstrukture met insentiewe en voorkeurlenings aan opkomende boere bied. SAB beoog ook tienjaar-kontrakte om produkte, soos hops, by hierdie boere te koop.
Die boere sal ook met opleiding bygestaan word en hul onderneming sal veral aan die begin ondersteun word.