
Instansies in die landbou wil ’n internasionale stelsel ontwikkel om elke plaas op ’n unieke manier te identifiseer.
Dit is een van drie belangrike doelwitte waartoe ondertekenaars van die sogenaamde Aboe Dhabi-verklaring hulle verbind.
Die internasionale vereniging vir voedsel- en landbousakebestuur (Ifama) het op 14 Oktober sy steun aan die Aboe Dhabi-verklaring vir globale voedselsekerheid deur goeie landboupraktyke toegesê.
Die deklarasie bring private, openbare en groot markspelers byeen om haalbare oplossings te vind en in werking te stel vir die groeiende globale uitdagings rakende voedselsekerheid en veiligheid, het Ifama in ‘n verklaring gesê.
Die inisiatief is ’n beroep tot globale samewerking om nuwe benaderings te vind wat dit vir boere makliker, meer kostedoeltreffend en aantrekliker sal maak om veilige en volhoubare produksiepraktyke te gebruik.
Volgens Ifama sal dit markte toegankliker maak vir boere, hulle help om ’n bestaan te maak, en dit sal armoede en wanvoeding verminder.
Die vennote in die deklarasie wil ’n gemeenskaplike stel van goeie landboupraktyke ontwikkel; ‘n stelsel om elke plaas op ’n unieke manier te identifiseer wat deur alle rolspelers aanvaar word; en ’n meganisme om vennote in die voorsieningsketting se verbintenis en verslagdoening te bewerkstellig.
Mnr. Thad Simons, president van Ifama se raad van direkteure, het gesê daar is groot potensiaal vir ’n gemeenskaplike taal oor veilige en volhoubare landboupraktyke.
Ifama gaan die deklarasie op 'n formele geleentheid onderteken wat op 28 en 29 Oktober in Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate gehou word. DieGLOBALG.A.P-beraad word ook dan daar gehou.