
Dié verkennende projek is deur die navorsingsinstituut Trees (Tourism Research in Economic Environs and Society) aan die Noordwes-universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus aangepak om die waarde en gewildheid van biltong en wildsvleis in die plaaslike ekonomie te bepaal.
Nog ’n doel van die navorsing was om vas te stel hoe groei in die wildbedryf verbeter kan word, luidens ’n mediaverklaring van die NWU. “Ons het vir die eerste keer ’n idee van die waarde van biltong, ons het nou ’n syfer wat ons kan verdedig. Dit is eerlikwaar groter as wat ek gedink het en dit is steeds ’n konserwatiewe bedrag, want ons het nie supermarkte bygereken nie. Dit is lekker om te sien dat ons kultuurproduk so gevestig is,” sê prf. Melville Saayman, direkteur van Trees.
Hy meen die tyd is nou ryp vir biltong om sy merk internasionaal te maak. “Dit is ’n eg Suid-Afrikaanse produk wat internasionaal net so bekend en gewild as Nando’s en Amarula kan word. Is dit nie dalk tyd dat die Regering kopiereg op die naam ‘biltong’ kry nie, net soos wat met ‘Rooibos’ gedoen was. Ek dink dis die Regering se uitdaging.”
Om die waarde van biltong te bepaal het Saayman en sy span uit die uitganspunt gewerk dat daar een slaghuis vir elk van Suid-Afrika se 278 munisipaliteite is. Die gemiddelde gewig van die vleis wat verkoop word was met die hoeveelheid munisipaliteite vermenigvuldig, waarna dié syfer met die gemiddelde prys per kilogram vermenigvuldig was. So is bevind dat wildsbiltong ’n waarde van R237 772 288 het en beesbiltong se waarde is R2 475 899 136. Die gesamentlike waarde word dus gereken as meer as R2 7000 000 000.
Biltong se belangrikste prysdrywers is die koste van die dier wat gebruik word, die verwerking van die vleis en die gewildheid van die vleis wat gebruik word. Wat wildsvleis betref het 35% van respondente aangedui dat koedoe die gewildste wildsvleis is, gevolg deur springbok, impala, eland, wildebees, blesbok en volstruis. Slegs 5% van respondente het aangedui dat gemsbok gewild is, met vlakvark wat net 1% gewildheid geniet.
Saayman meen dat dié produkte ook beter bemarking behoort te geniet. “Suid-Afrika se verkope en uitvoer van wildsvleis is ’n klein bedryf met baie potensiaal, as mens ons wildsgetalle en variasie in ag neem. Wat dít betref is ons dalk die beste in die wêreld. Daarom was dit verblydend om te sien dat die Regering onlangs met die Europese Unie onderhandel het om wilduitvoer te verhoog. As dit goedgekeur word, is dit ’n proses wat tot grootskaalse werkskepping kan lei. Daar is ’n beduidende vraag vir produkte soos wildsvleis in Asië. Dit is ’n ontluikende mark wat nog nie getap is nie, en ons moet nie die kans verspeel om dit eerste te doen nie. Ons wildsvleis móét egter beter bemark word.”