Gesprekke oor die moontlikheid om die moratorium op die gebruik van mielies vir biobrandstof te lig, gaan voort, sê Graan SA. Dié kwessie het weer na vore gekom vanweë die vier miljoen ton oorskot mielies wat verlede jaar in Suid-Afrika geproduseer is.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in Oktober verlede jaar by Agri SA se jaarkongres aangekondig besprekings oor die moratorium is hervat. Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê: “Sedertdien het ons reeds gesprekke met die portefeulje-komitee vir energie gevoer en onderhandelinge gaan voort.”
’n Mite
Ferreira sê hulle poog om die mite onder politici dat die gebruik van mielies vir bio-brandstof tot hongersnood en sterftes gaan lei, te verander.
Slegs 33% van die land se mielie-oes word vir menslike verbruik aangewend, en Ferreira sê plaaslike produsente kan van die meeste mielies ter wêreld produseer om seker te maak daar is genoeg vir menslike verbruik, maar ook om vir biobrandstof te gebruik.
Werksgeleenthede
As Suid-Afrika vanaf 2005, toe die beleid oor biobrandstof wêreldwyd begin posvat het, biobrandstof begin ontwikkel het, kon 8% van die land se petroleumgebruik reeds van biobrandstof afkomstig gewees het.
Die gebrek in die beleid het al tot die verlies van 100 000 werksgeleenthede gelei. Mnr. Jannie de Villiers, nuwe uitvoerende hoof van Graan SA, sê hulle hoop dat tydens die onderhandelinge die dringendheid by die staat rakende werksgeleenthede, hul versigtigheid oor die kwessie gaan troef.
9 Maart 2011