
Die biobrandstofprojek op Cradock is gereed vir toepassing, sê mnr. Vusi Mahlangu, adjunkdirekteur-generaal vir Grondhervorming.
Mahlangu was deel van ’n afvaardiging wat ’n voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming oor die implikasies van die Regering se plan vir nywerheidsontwikkeling, groei en die nasionale konsep ontwikkelingsplan gedoen het.
Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het vroeër aangedui dat R1,8 miljard vir die projek goedgekeur is.
Die projek is bykans vyf jaar gelede deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC), die Sentrale Energiefonds (SEF) en die Oos-Kaapse regering begin. Die portefeuljekomitee wou weet hoe die projek vorder.
Mahlangu het aangedui dat indien alles goed verloop, die projek in Julie sal begin.
Sy departement werk saam met ander departemente sodat sekere regulasies, soos die bestuur van die begunstigdes se sake-aangeleenthede, subsidies en ondersteuning wat verleen gaan word, toegepas kan word.
Die departement is nou besig om begunstigdes te identifiseer wat sal baat vind by die projek. “Die grond wat gekoop is, is nie alles net vir die aanleg nie.” Hy het gesê dat begunstigdes ander gewasse ook daarop kan plant en vee kan aanhou.