Biodiversiteit en die strategiese teikens wat na 2010 behaal moet word, is hoog op Suid-Afrika se agenda by die komende Biodiversiteitskonvensie in Japan.
Die konvensie is van 18 tot 29 Oktober in Nagoya, Japan.
Luidens ‘n verklaring koördineer die Departement van Omgewingsake en Waterwese Suid-Afrika se deelname aan die onderhandelings by die konvensie. Die Kabinet het onlangs die dokumente goedgekeur en vier spesifieke areas is as hoofpunte geïdentifiseer. Dit is:
Biodiversiteit startegiese teikens vir na 2010 en hoe dit geïmplementeer gaan word.
Die internasionale regime oor toegang en die deel van voordele.
Protokol vir biosekuriteit, verantwoording en die aanspreek van probleme.
Biodiversiteit wetenskaplike beleidsplatforms.
Die land se verteenwoordigers steun die huidige plan vir biodiversiteit wat vir die tydperk 2011 tot 2020 in plek is. Hulle meen egter dit gaan nie suksesvol wees as die dokument nie verbintenisse tot voldoende finansiering, wat binne sekere tydperke beskikbaar gestel sal word, bevat nie. Dit is een van die punte wat hulle wil aanspreek.
Me. Rejoice Mabudafhasi, die adjunk-minister van Omgewingsake en Waterwese, en ‘n afvaardiging besoek Gabon eersdaags om dié besprekingspunte sowel as ander Afrikalande se standpunte, veral op ‘n politieke vlak, rondom biodiversiteit te bespreek.
“Op ‘n algemene vlak sal Suid-Afrika daarna streef om te verseker die reaksie van biodiversiteit op die klimaatsveranderingskrisis is effektief en dat alle politieke en finansiële implikasies in ag geneem word voordat finale besluite gemaak word en die internasionale gemeenskap verdere stappe neem,” lui die verklaring.
15 September 2010