
Dit volg op ’n studietoer in Junie na Indië deur Safda-verteenwoordigers om meer te wete te kom oor kleinskaalse produksie, maal en waardetoevoeging van suikerriet daar.
Safda sê daar is meer as 500 landelike en buitestedelike suikermeulens in Indië. Talle kleinskaalse suikerrietkwekers is binne ’n radius van 20 km tot 30 km van elke meule gegroepeer. Hierdie betreklik kort afstande verminder die tyd en vervoerkoste na meulens. Oeste word verwerk op dieselfde dag as wat hulle gelewer word. Die boere word in dieselfde week betaal.
Die waarde van Indië se suikerriet word gemaksimeer deur in verskeie produkte verwerk te word, naamlik suiker, elektrisiteit, verskeie grade etanol, biogas en bio-kunsmis. Afval word omgeskakel in krag wat die verwerkingsaanlegte aandryf. Hierdie doeltreffende en geoptimaliseerde fabrieke wat die waarde van suikerriet benut, lei tot groter wins wat met die kleinskaalse suikerrietboere gedeel kan word.
Safda sê hy glo dat gediversifiseerde bioraffinaderye Suid-Afrika se lang, sukkelende suikerrietwaardeketting kan regruk. Safda het van die land se bestaande suikerrietverwerkingsmaatskappye gekritiseer omdat hulle na sy mening nie daarin geslaag het om die ontwikkeling en finansiële volhoubaarheid van Suid-Afrika se kleinskaalse suikerrietkwekers, van wie verreweg die meeste swart is, voldoende te ondersteun nie.
Safda se idee vir een of meer suikerriet-bioraffinaderye wat deur kleinskaalse suikerrietprodusente besit word, is glo bedoel om hierdie produsente groter beheer oor hul eie lot en winsgewendheid te gee.
Safda beoog om gemodulariseerde aanlegte met die nuutste tegnologie te bou en wat ontwerp is teen die kapasiteit wat geskik is vir swart suikerrietboere se meulens. Die ligging van hierdie aanlegte sal onder meer ontwerpkapasiteit met betrekking tot swart suikerrietproduksie in ag neem, en die hoeveelhede oordrag- en onverwerkte suikerriet in bestaande meulens se voorsieningsgebiede en die vervoerkoste van kleinskaalse en grondhervormingsboere verminder.
Safda beoog tans vier strategies geleë suikerrietverwerkingspunte. In KwaZulu-Natal sal dié in die verre noorde van Zoeloeland, in die suide van Zoeloeland en aan die Suidkus wees. In Mpumalanga sal een in die Malelane-Komati-suikerrietverbouingsgebied wees.
Die vereniging sê om hierdie visie te verwesenlik, sal dit ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering en die private sektor as strategiese vennote benodig. Hierdie ondersteuning sluit in versnelde ontwikkelingsfinansiering, regulatoriese ondersteuning wat watergebruiklisensies en elektrisiteit betref, die ontsluiting van plaaslike en uitvoermarkte, en afsetooreenkomste vir die produkte wat uit hierdie verwerkingspunte voortvloei.