
Dit is weens die covid-19-pandemie die eerste keer sedert 2019 dat die skou aangebied word. Me. Julia Hackland, sekretaresse van die Royal-skou se vee-afdeling, sê ongeveer 700 stoetbeeste en -skape, vet tollies, lammers en Boerbokke is ingeskryf om aan verskillende kompetisies en uitstallings deel te neem.
Daar was vrese dat die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal, tesame met bedreigings van ander ekonomies belangrike dieresiektes, die doodsklok kon laat lui vir deelname van vee aan die skou.
Mnr. Angus Williamson, voorsitter van die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusente-organisasie (KZN RPO) en komiteelid van die Royal-skou se vee-afdeling, sê die Royal-landbouvereniging van Natal, wat die skou aanbied, het met die samewerking van die KZN RPO ywerig gewerk het om die landbouprodukte-agenteraad (Apac) se biosekerheidsmaatre?ls voor en tydens die skou toe te pas.
“Dit is tegnies moeilik, maar dit word gedoen. Die vee-afdeling is ’n bioveilige area en daar is kiemdodende voetbaddens vir alle mense wat die afdeling binnekom en verlaat. Alle voertuie en hul insittendes wat die bioveilige area binnegaan, word geïnspekteer en ontsmet. Die KZN RPO het die veearts dr. Tod Collins aangestel om alle vee met aankoms en tydens die skou deeglik te na te gaan vir tekens van bek-en-klouseer en ander siektes.”
Hy sê vee-eienaars en -uitstallers wat reeds by die skouterrein is, is tevrede met die biosekerheidsprotokolle en opgewonde dat hulle ná die lang wag weer hul diere kan ten toon stel.
’n Teleurstelling was dat die nasionale kampioenskap van die reuse- Italiaanse beesras, die Chianina, nie meer by die Royal-skou gehou sal word nie. Dit is omdat Chianina-beeste op die onlangse Nampo-oesdag in die Vrystaat was en daar nie genoeg tyd was om dieselfde diere vir die vereiste 28 dae in kwarantyn te plaas voordat hulle na die Royal-skou gebring kon word nie.
“Ons sien uit na die kameraadskap, die hernuwing van ou vriendskappe en om eendersdenkende mense by vanjaar se Royal-skou te ontmoet,” sê Williamson.
Sien die program vir die Royal-skou se beesafdeling hier en vir sy skaap- en bokafdeling hier.