
Volgens BKB is die groep ’n groot verskaffer van landbou- en dieregesondheidsdienste in die voormalige Transkei.
“Die Provident-groep van maatskappye se reputasie om hoë gehalte produkte en dienste te lewer is welbekend en ons is opgewonde om hulle by die BKB-familie te verwelkom.”
Die verkryging sluit drie gevestigde besighede, genaamd die Cowden-koöperasie met handelstakke op Ngcobo, Idutywa en Mthatha, Provident Animal Health met handelstakke in Oos-Londen en ’n veeartsenygroothandelaar, Farmer Vet, ook in Oos-Londen. Die verkryging sal in Maart vanjaar finaliseer word.
Luidens die verklaring sal die Provident-groep se handelsname behou word en werksaamhede voortgaan, “aangesien ons die waarde en aansien wat hulle in die streek opgebou het, erken en dit sal geleidelik geïntegreer word in die bestaande BKB handelsaanbod”.
Volgens BKB, wie se hoofkantoor in Gqeberha in die Oos-Kaap is, sal die verkryging hom help om sy nasionale teenwoordigheid te verbreed deur sy teenwoordigheid in die Oos-Kaap uit te brei en om in die behoeftes van plaaslike boere en produsente te voorsien.
“Saam sal ons voortgaan om die groei en ontwikkeling van die landboubedryf in Suid-Afrika te ondersteun.”
BKB het in die afgelope paar jaar onder meer Louwid en Van Wyk Lewendehawe by BKB ingelyf. Hy het ook die Oos-Kaapse afslaersmaatskappye Rivierview Trading en RobCaw oorgekoop, asook GWK se Humansdorp- en Vrystaattak, KLK se lewendehaweafdeling (spesifiek stoetveeveilings) om sodoende sy bedrywighede in die Noord-, Oos-, en Wes-Kaap, asook die Vrystaat uit te brei.
Dit sluit ook die eiendomsagentskap Home & Hectare in waar residensiële en landbou-eiendom verhandel word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.