
Die groep doen sake in 10 landboubedrywe in Suid-Afrika en in die buiteland.
Volgens mnr. Johan Stumpf, BKB se uitvoerende hoof sedert 2020, is die goeie resultate te danke aan die diverse aard van BKB se bedrywighede en die groep se beperking van nie-noodsaaklike uitgawes. Die waarde van die groep se bedrywighede het op ’n jaargrondslag met 8% van R13,2 miljard tot R14,3 miljard gegroei.
“Dit is baie bevredigend om wins voor belasting van R171 miljoen aan te teken. Dit is nie net 15% beter as die vorige jaar se wins is nie, maar ook beter as ons teiken. Dit is veral bevredigend gegewe die ontwrigtings wat in dié boekjaar plaasgevind het.”
Die groep se vesel- en lewendehawe-afdeling, wat onderskeidelik 25% en 43% van sy bedrywighede behels, was in die laaste kwartaal van die boekjaar onder druk weens bek-en-klouseer.
Desondanks het albei afdelings goeie winste aangeteken. Die verbod op die uitvoer van wol na China is opgehef en die veselafdeling sal in die komende boekjaar ’n soliede vertoning lewer, sê die groep luidens ’n verklaring oor sy jaarresultate.
“Die uitwerking van bek-en-klouseer op ons lewendehawe-bedrywighede is meer onseker, maar ’n alternatiewe sakemodel is reeds ingestel as die verskuiwing van diere vorentoe weer beperk word.”
BKB se kleinhandelafdeling, wat 56 winkels en vulstasies oor die land heen bedryf, het ’n uitstekende jaar gehad en ’n rekordwins aangeteken. Volgens die jaarverslag is die bedryfswins 22% hoër as in die vorige boekjaar.
PaKHouse Brands, the verwerkingsfiliaal van die groep, het sy finansiële prestasie beduidend verbeter en ’n styging van 19,2% in sy bedryfswins aangeteken. Dit is hoofsaaklik te danke aan ’n nuwe graanverkrygingstrategie en die herstrukturering van marktoegang vir sy produkte.
Volgens mnr. André du Toit, besturende direkteur van PaKHouse Brands, moet hierdie verbetering beskou word teen die agtergrond van hoër logistieke koste, asook onproduktiewe en ondoeltreffende hawedienste vir die verskeping van uitvoervrag.
Volgens Du Toit sal die klem in die volgende boekjaar steeds val op die verhoging van doeltreffendheid in die suiker-, rosyntjie-, maal- en lusernbedryf.
Volgens BKB se finansiële direkteur, mnr. Jannie van Niekerk, sal die groep steeds binne konserwatiewe skuldvlakke groei najaag. Van Niekerk sonder BKB se notering op 10 Maart 2022 op die Kaapstadse aandelebeurs (CTSE) as een van die hoogtepunte van die boekjaar uit.
Danksy die verbeterde finansiële resultate het verdienste per aandeel tot 148 sent (2021: 133,3) en wesensverdienste per aandeel tot 134,1c (2021: 132,5c) gestyg. Die direksie het ook ’n bykomende bruto dividend van 42c per aandeel goedgekeur.