Die landboumaatskappy BKB – wat reeds ’n aandeel van 20,04% in KLK Landbou Bpk., met sy hoofkantoor op Upington, besit – het ’n aanbod gemaak om die res van die aandele te bekom.
In ’n gesamentlike verklaring word gesê BKB se aanbod sal die volgende behels: R5 plus een volopbetaalde BKB-aandeel óf ’n kontantbedrag van R9,15 vir elke twee KLK-aandele.
Die aanbod vir aanvaarding sal op Maandag 12 Maart open en die aanvanklike sluitingsdatum is Donderdag 26 April. Enige verandering in die sluitingsdatum sal vooraf bekend gemaak word.
Die terme in die aanbodbrief behels onder meer dat die direksie van KLK daarop geregtig sal wees om ’n aandeelhouerslening van nie meer nie as R2,4 miljoen terug te betaal. Indien die aanbod suksesvol is, sal minstens drie lede van KLK se direksie vir ’n tydperk van drie jaar in die direksie van BKB dien. Die kantoor van KLK in Upington sal as streekkantoor behou word om KLK se lede te bedien.
Redelike stappe gedoen
Die bestaande afdelings van KLK vir vleisverskaffing en -verspreiding asook sy abattoirs sal behou word en “alle redelike stappe” sal gedoen word om die volhoubaarheid en winsgewendheid van die eenhede te verseker. Geen personeel van KLK sal in die eerste ses maande ná die samesmelting afgedank óf verplaas word nie. Die ondernemings se integrasieprosessesal só bestuur word om die minste invloed op die bestaande sakeverhoudings te hê.
Die voorgestelde samesmelting is onderhewig aan goedkeuring deur die mededingingsowerhede.
Indien die aanbod van BKB om minstens 51% van die aandeelhouding in KLK te besit, nie slaag nie, sal BKB die 20,04% aandele wat hy reeds hou, weer aan KLK aanbied.
10 Maart 2012