’n 'Blaps' deur die Blou Skerpioene gaan die Departement van Waterwese waarskynlik meer as R100 000 kos.
Barberton se landdroshof het verlede November in mnr. Dirk Hurter, ’n suikerboer van Komatipoort, se guns beslis dat Waterwese onwettig ’n sandsak-keerwal op sy plaas afgebreek het.
Adv. Maritza Uys, ’n kenner van die Nasionale Waterwet (nr. 36 van 1998) sê die departement het erken dat hulle drooggemaak het met dié stap. Die hof sal die beslissing bekragtig sodra die ware omvang van die skade en regspanne se eise bepaal is.
Veldtog
Die keerwal is in 2008 afgebreek in ’n veldtog waartydens die Blou Skerpioene beweerde “waterdiewe” voor stok wou kry. Hurter is vir dié bewusmakingsveldtog uitgesonder.
Me. Lindiwe Hendricks, voormalige Minister van Waterwese, het destyds ywerig gehelp om dié keerwal af te breek. Lede van die media, insluitend Landbouweekblad, was genooi om dié aksie te aanskou.
Die departement het later aan Landbouweekblad ontken dat die keerwal deur hulle afgebreek is, ten spyte van foto’s en beeldmateriaal wat op die toneel geneem is. Hul verweer was dat vloede die sakke weggespoel het voor dit verwyder kon word.
15 Maart 2012