
Die Instituut van Markagente van Suid-Afrika (Imasa) het sy Blinkrooi Appel-wisseltrofee vanjaar aan Aartappels Suid-Afrika (PSA) toegeken tydens 'n gala-ete in Durban. Dié trofee word toegeken aan ‘n rolspeler in die varsproduktebedryf uit erkenning vir hul leierskap en innovasie in kliënteverhoudings en kommunikasie in die varsproduktesektor.
Kommunikasie en kliënteverhoudings is twee sleutelelemente om volhoubare markte en besighede te bou, “gegewe die hoogs mededingende aard van varsproduktebemarking,” sê mnr. Grant Norman, president van Imasa. Hy het ook gesê: “Ons by Imasa is veral dankbaar teenoor PSA vir hul volgehoue en ruim ondersteuning van Projek Herlewing kort nadat dit in 2011 van stapel gestuur is. Hulle was deurgaans ten gunste van die opheffing van markte en hul insette namens hulle kwekers is altyd positief en inligtend.”
Volgens mnr. Norman is PSA 'n moderne boerdery-organisasie wat sonder enige twyfel bewys dat daar leiers in die landbousektor is wat “baie meer as hulle deel doen”.
Die trofee, 'n groot blinkrooi appel, verpersoonlik internasionaal alles wat goed is omtrent varsprodukte en Norman meen mense sal dalk wonder oor die verband tussen appels en aartappels - “behalwe dat albei heerlik en voedsaam is en aan die varsproduktewêreld behoort.”