
Indien die Regering sonder verdere konsultasielisensies aan maatskappye toestaan wat toetsgate vir die ontginning van skaliegas wil boor, sal dit in die hof getoets word.
Die bloed sal spreekwoordelik nog vloei, waarsku mnr. Jonathan Deal, hoof uitvoerende beampte van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG).
Een van die sprekers tydens die tweede parlement van die Karoo Ontwikklingstigting (KOS) vandeesweek op Cradock, het Deal gesê dit sal tot drie jaar neem voordat enige toetsgate vir skaliegas in die land gesink sal word. “Ek vertrou dat die toenemende inligting oor die nadelige gevolge van die ontginning van skaliegas in die buiteland regdenkende besluitnemers sal oortuig om nié daarmee voort te gaan nie.”
Deal sê hy is oortuig dat die maatskappye wat om lisensies aansoek gedoen het om toetsgate te boor, reeds finansieel daaronder ly en ontnugter is. Hy sê Falckon het reeds die helfte van sy aandele van sy Suid-Afrikaanse konsessie aan Chevron verkoop. “Wat duidelik is, is dat al drie maatskappye wat reeds vir lisensies aansoek gedoen het, se omgewingimpakstudies ernstige gebreke het. Hulle sal na die tekenbord moet teruggaan en weer met die publiek konsulteer wat nou baie meer ingelig is as drie jaar gelede.”
Deal, wat onlangs uit Amerika terugekeer het, beweer dat Shell in die staat van New York regstreeks met inwoners om hul drinkwater vir hidrobrekeing meeding. “Gebaseer op hierdie onlangse optrede deur die maatskappy is ons met reg suspisieus oor Shell se beloftes aan Suid-Afrikaners rakende die kwessie van water.
“Ek het baie brekingsterreine in Amerika besoek en nie één gesien wat selfs net byna in 150 vierkante meter sal inpas nie. Al is dit standaardpraktyk om die impak van ontwikkeling in persentasies uit te druk, bly dit oneerlik. Dit klink of net 1% van die opervlakte ’n baie klein deeltjie van die grond gaan beïnvloed.
"Selfs al is dit waar, bly Shell doodstil oor die hoeveelheid grond wat deur ander multinasionale maatskappye vir menige ander gebruike ontwikkel sal word. Die hele prentjie moet in ag geneem word," het Deal gesê.
* Shell bied Woensdag, 12 November, ’n mediasessie in Kaapstad aan oor hidrobreking, waar mnre. Bonang Mohale (voorsitter van Shell SA), Jan Willem Eggink en John Shoobridge optree.