
Landbou-organisasies moet beslis met die Regering bly onderhandel oor grondhervorming, sê regter Anthonie Gildenhuys.
Dié afgetrede regter, 'n kenner van onteienings-, waardasie- en waterreg, het oor eiendomsregsekerheid by Agri Noordwes se jaarkongres in Lichtenburg gepraat en gereageer op 'n vraag rondom uitsprake dat Agri SA nie met die Regering hieroor behoort te onderhandel nie.
“ 'n Redelike deel van die regerende party stem saam oor die gevare wat ons in die gesig staar. 'n Mens moet jouself en jou standpunt deur onderhandelinge aanvaarbaar maak.”
Hy het die landbou aangemoedig om deel te wees van komitees wat na nuwe wette kyk en daar insette te lewer. “My indruk is dat Agri SA dit baie goed doen.”
Volgens Gildenhuys behoort die groot vraag nie nou rondom “volle vergoeding” met onteiening te wees nie, maar eerder waar die Regering die geld vandaan gaan kry om al sy beloftes uit te voer.