Croplife SA het ’n omvattende boek oor middels wat gebruik kan word in die bestryding van swam-, virus- en bakteriese plantsiektes gepubliseer.
Benewens gebruik deur produsente, uitvoerders, die Regering, studente en tuinboukundiges, is dit ook ’n nuttige naslaanwerk vir sertifiseringsagentskappe.
The Control of Fungal, Viral and Bacterial Diseases in Plants is ingedeel in hoofstukke vir siektes by spesifieke gewasse en waarmee dit behandel kan word. Daar is ’n afdeling vir sekere siektes wat verskeie gewasse beïnvloed en aanhangsels wat alfabetiese lyste bevat van onder meer die gewone name van aktiewe bestanddele, maatskappyname en geregistreerde gebruike.
Toelaatbare residue in voedsel
’n Nuttige aanhangsel bevat inligting oor die maksimum toelaatbare residue in voedselprodukte.
Die boek is in Pretoria bekend gestel en is die eerste in ’n stel soortgelyke publikasies wat mettertyd die lig sal sien.
Die boeke word saamgestel deur me. Kathy van Zyl en uitgegee deur die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging (Avcasa). Dit kan bestel word by Avcasa, Posbus 1995, Halfway House 1685 of skakel 011 805 2222.
Nog ’n bruikbare hulpmiddel in die bedryf is ’n omvattende elektroniese databasis van landbouchemiese produkte wat in Suid-Afrika geregistreer is en ook vir die internasionale mark be¬skikbaar is. Die ABSi-databasis word in vennootskap met Capespan opgestel en daagliks bygehou. Dit is beskikbaar op www.croplife.co.za of by www.avcasa.co.za.
17 Maart 2012