
’n Bekende boer en veespekulant wat sake met talle boere in die Vrystaat en Noord-Kaap gedoen het en sy vrou het in die Bloemfonteinse landdroshof op 600 aanklagte van bedrog in veetransaksies van meer as R60 miljoen verskyn.
Volksblad-joernalis, Mike van Rooyen, skryf Solomon Henri de Villiers (58) en sy vrou, Marinda (53) van Reg de Villiersstraat, Kimberley, het ook verskyn op altesaam 598 aanklagte van vervalsing en 598 aanklagte dat hulle vervalste dokumente by die Ontvanger vir BTW ingedien het.
Landdros Paula Berry hul verhoor tot 15 September uitgestel het.
Die staat beweer in ’n voorlopige klagstaat dat die SA Inkomstediens van 2007 tot 2009 in die 600 transaksies wat De Villiers met boere gedoen het, skade van R7,4 miljoen aan BTW gely het. Sy vrou was verantwoordelik vir die administrasie van sy onderneming en het die belastingfakture uitgereik.
Die staat beweer De Villiers het boere in die Vrystaat en Noord-Kaap genader en oortuig om vee aan hom te verkoop. Hy het hulle beter pryse per kilogram aangebied as hulle aan hom fakture gee asof hy by hulle mielies of veevoer gekoop het, waarop nie BTW betaalbaar is nie. Die boere is dan in kontant, of per tjek betaal. Die boere het dus nie BTW op veetransaksies gevra nie en dit ook nie aan die SAID verklaar nie.
Die staat sê toe die SAID ’n oudit op De Villiers se BTW-terugbetalings doen en belastingfakture vra, het die egpaar vervalste fakture ingedien om sy eise te probeer regverdig, lui die voorlopige klagstaat.
* Lees die volledige berig op Volksblad se webwerf.