’n Gyselaarsdrama het hom op Wakkerstroom in Mpumalanga afgespeel ná ’n boer ’n begrafnis op sy plaas wou stopsit.
Luidens ’n berig in Beeld is die 34-jarige mnr. Hendrik Davel van die plaas Sterkfontein Woensdagoggend (23 Mei 2012) aangeval toe hy gaan navraag doen oor die begrafnistente wat sowat 200m van sy huis af opgeslaan was.
Davel het volgens die berig vroeër die week aan ’n afvaardiging van die oorledene se familie gesê sy kan nie op die plaas begrawe word nie, want sy het in Johannesburg gewoon en gewerk.
Sy is Sondag (20 Mei 2012) oorlede. Hy het Woensdag na ’n tent wat by ’n stat opgeslaan was gegaan om ondersoek in te stel.
Met sy aankoms by die tent is hy aangerand en vasgebind. Daarna is hy gedwing om op die oorledene se kis te sit, terwyl foto’s van hom geneem is. Hy is daarna in een van die hutte in die stat aangehou. Davel se 38-jarige broer het hom gaan soek, maar hy is ook aangerand en as gyselaar geneem.
Boere van die omgewing is vinnig na die plaas ontbied en kon die situasie beredder. Met die Polisie se aankoms op die plaas is die broers vrygelaat.
Onaanvaarbaar
Mnr. BP Greyling, ’n boer en bevelvoerder van die reaksiemag in Wakkerstroom se landelike gebied, sê die voorval is heeltemal onaanvaarbaar. Dit is tragies dat só iets gebeur het in ’n gemeenskap wat jare laas ’n geval van geweld op ’n plaas ondervind het. Hy meen dit is onaanvaarbaar dat mense wat nie op plase woon nie, sonder toestemming op ’n plaas begrawe word.
“En dit is nie aanvaarbaar dat ’n mens se regte geskend word wanneer jy navraag doen en ondersoek instel, deur aangerand te word en gedwing te word om met ’n bebloede gesig - terwyl jy langs ’n kis sit, afgeneem te word nie,” aldus Greyling.
Greyling raai boere in sulke situasies aan om die hulp van die toepaslike owerhede te vra.
“My raad aan boere is om eerder die Polisie en owerhede se hulp in so ’n situasie te vra pleks van om dit op eie stoom te probeer oplos. Al wat kan gebeur as jy dit alleen aanpak, is dat jy jouself daardeur verneder en die risiko loop om die beeld van die hele landbougemeenskap in gedrang te bring.”
Aanklagte van aanranding en diefstal word deur die Polisie ondersoek.
24 Mei 2012