
’n 57-jarige boer van Groblersdal in Mpumalanga het dié week skuld beken op ’n aanklag van strafbare manslag nadat ’n 14-jarige seun verlede jaar op sy plaas gesterf het.
Mnr. Piet Swart het in Oktober verlede jaar waarskuwingskote afgevuur op die tiener en drie van sy vriende wat sonder toestemming in ’n dam op sy plaas vis gevang het.
Luidens ’n berig in Beeld is die skote met ’n haelgeweer afgevuur. Een van die skote het Jacob Gift Mbhangini in die kop getref, terwyl nóg ’n skoot sy 17-jarige vriend in die hand getref het. Die twee ander vriende het op die vlug geslaan.
Vergoedingsboete
Swart is gevonnis tot vyf jaar tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy het ook opdrag gekry om ’n vergoedingsboete van R100 000 te betaal. Van dié bedrag sal R75 000 aan Mbhangini se familie gaan, terwyl R25 000 aan die 17-jarige vriend se familie betaal moet word.
Swart het ook skuld beken op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer en drie aanklagte van aanranding.
Bron: Beeld.com