Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Oos-Vrystaat is op soek na twee verdagtes nadat ‘n 63 jarige boer van Fouriesburg Donderdagaand (16 September) aangeval is.
Sers. Majang Mosupa sê die verdagtes het die boer op die plaas Sarswooning aangeval.
‘n Plastieksak oor die kop
Masopa sê een van die verdagtes het ‘n plastieksak oor sy gesig aangehad. “Ons verstaan nog nie hoekom die verdagte die sak aangehad het nie aangesien dit deurskynend was.”
“Die boer het rondom 17:45 twee mans gesien wat agter ‘n dieseltenk weggekruip het. Hy het na die mans gestap om hulle te konfronteer. Die verdagtes het toe in Suid-Sotho met mekaar gepraat waarna hulle die boer aangeval en met ‘n knopkierie oor die kop geslaan het,” vertel Mosupa.
Niks is gesteel
Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug. Die boer het ‘n kopwond opgedoen, en is op die toneel behandel. Niks is tydens die voorval gesteel nie.
‘n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek. Enige iemand met inligting oor die verdagtes of die voorval kan hulle naaste polisiestasie of speurder Letuka by 082 8313 840 skakel.
17 September 2010