Die boer van Underberg in KwaZulu-Natal wat hondsdolheid onder lede het, mnr. Graeme Anderson, veg al twee weke lank om sy lewe teen dié siekte.
Landbou.com het onlangs berig dat Anderson hondsdolheid opgedoen het nadat hy ’n rondloperhond opgetel en na sy huis gebring het. Volgens ’n berig in Volksblad het Anderson se dokters dié week begin om hom uit ’n geïnduseerde koma te bring. Hy word tans in die Pietermaritzburg-Mediclinic behandel.
Dié jong boer word deur middel van die Milwaukee-protokol behandel wat behels dat mense wat dié siekte opdoen onder diep verdowing geplaas word om die brein kans te gee om teenliggaampies teen die siekte op te bou.
Volgens ’n kenner, prof. Lucille Blumber van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, is dit ál doeltreffende behandeling teen dié siekte.
Daar was tot dusver 97 gevalle van hondsdolheid in diere in KwaZulu-Natal, wat ’n groot uitbreking in die Winterton-Bergville-omgewing insluit.
Lees hier waar dr. Jan van Wyk vertel hoe ’n hondsdol dier ’n mens maklik onkant kan betrap.
Bron: Volksblad
18 Mei 2012