
'n Brand wat Maandag in 'n mielieland uitgebreek het terwyl die mielies gestroop is, het tot 'n boer van Viljoenskroon se dood gelei.
Die boer, mnr. DP van Huyssteen (42) is vermoedelik dood weens die inaseming van rook, het kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Thakeng kon Van Huyssteen die brand geblus kry, maar is hy ná die tyd dood. Die polisie sal 'n geregtelike doodsondersoek doen.
Volksblad berig Van Huyssteen se dood kom 16 jaar nadat sy broer, Thys, op 30-jarige ouderdom in 'n plaasaanval vermoor is.
Die koerant berig dat Huyssteen se beste vriend, mnr. Bertus van Biljon, Maandag met hom na die dokter op dorp gejaag het, maar hy is op pad daarheen dood.
Luidens die berig laat Van Huyssteen sy ouers, Danie en Annemarie, 'n seun, Nieltus (8), 'n dogter, Zaniel (12), en 'n suster agter.
Van Biljon het op Facebook geskryf die begrafnis word Vrydag, 18 Julie, om 10:00 uit die AP kerk op Viljoenskroon gehou.
Oor sy vriend en buurman skryf hy: “Eish. Ou DP. Dankie vir een van die beste voorbeelde van 'n regte pa wat ek nog gesien het.”
Van Biljon se vrou, Jolindie, het Van Huyssteen op Facebook beskryf as “ 'n dierbare mens, beste pappa en so goeie vriend”.
Bron: Volksblad.