
'n Man het Maandag in die hof op Springbok verskyn ná ’n
voorval waarin ’n boer Saterdagmiddag op ’n plaas tussen Klein-Pella en Witbank
doodgeskiet is.
Frederick Byrne (53) het vlugtig verskyn. Sy volgende verskyning is op 17 Januarie wanneer hy in die hof in Pofadder aansoek om borgtog sal doen. Hy bly in aanhouding.
Volgens lt.kol Sergio Kock, polisiewoordvoerder, was mnr. Dawie Olivier (54) en sy vrou in ’n rusie betrokke toe Byrne, ’n vriend van die gesin, wou ingryp. Olivier is in sy bors geskiet en het op die toneel gesterf. Die Pella-polisie het Byrne daarna in hegtenis geneem.
Enigeen met inligting oor die voorval kan AO Michael Rakhaba by 082 495 4789 bel.
Die ondersoek duur voort.