
'n Boer en sy gesin van die KwaZulu-Natal Middelland se afgeleë distrik Middelrus sluk 'n groot sug van verligting. Dit is nadat agt gewapende mans Sondagaand op die gesin se plaas Holcombe opgedaag het met wat blykbaar die bedoeling was om hulle onder bedreiging met vuurwapens te beroof.
Mnr. Tony le Roux, bestuurder van die Mooi-Mpofana-landbouvereniging, sê toe die indringers uitvind die boer en sy gesin was nie tuis nie, het hulle plaaswerknemers wat naby die hoofplaashuis woon, opgespoor en vasgebind.
“Hulle het die boer se huiswerker gedwing om die boer se huis oop te sluit. Hulle het geld en handwapens gesoek. Hulle het 'n hoekslyper gebruik om die boer se kluis oop te breek en 'n 9 mm-pistool daaruit gevat. Hulle het ook drank en baie vleis gevat. Hulle het tot in die plafon geklim om ook geld daar te soek. Die gesin hou egter nooit kontant op hul plaas nie.”
Mnr. Guy English van die plaas Holcombe, wat saam met sy hele gesin waarskynlik die indringers se vernaamste teiken was, het aan Landbou.com gesê, "Dankie tog dat die gesin nie tuis was nie."
Hy is ook dankbaar dat nóg die huiswerker nóg enige ander van sy plaaswerknemers deur die gewapende aanvallers beseer is.
Een van English se mede-boere in die KwaZulu-Natalse Middelland, wat verkies om anoniem te bly, is woedend en gefrustreerd oor die rooftog. “Suid-Afrika is in 'n toestand van absolute verval. Daar is totale wetteloosheid. Dit is uiters kommerwekkend maar nie verbasend nie. Suid-Afrika se leiers en wetstoepassers doen niks nie. Daar is geen gevolge vir misdadigers nie.”
Konst. Thenjiswa Ngcobo, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, sê die polisie van Mooirivier ondersoek 'n saak van roof.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.