
Mnr. Harrison Scheepers word daarvan beskuldig dat hy ’n plaaswerker in Januarie met ’n ysterstaaf aangerand het. Harrison is die seun van die Oos-Vrystaat boer mnr. Gilly Scheepers. Die Scheepers-familie bedryf die Boskruin-landgoedboerdery waar die vermoorde mnr. Brendin Horner gewerk het.
Hoewel die voorval tussen Scheepers en die werker, mnr. Frikkie Mofokeng, glo al op 3 Januarie plaasgevind het, is nuus van die voorval eers onlangs bekend gemaak in ’n mediaverklaring van die Patriotic Front of Azania (PFA).
In die verklaring beweer mnr. Johnny Maseko, president van die organisasie, dat Mofokeng se arm gebreek is toe Scheepers hom na bewering sonder rede met ’n ysterstaaf oor die kop wou slaan en hy gekeer het.
Scheepers se prokureur, mnr. Theo le Roux, het gister met sy kliënt vergader en daarna geskrewe terugvoer aan Landbou.com gestuur waarin hy sê: “Ná konsultasie met my kliënt en in terme van die instruksies sal ons kliënt skuld ontken in die saak indien met vervolging voortgegaan word in die Paul Roux-distrikshof.
“Die polisie ondersoek die saak en mnr. Scheepers glo dat die polisie-ondersoek behoorlike lig sal werp op die aangeleentheid.”
Le Roux het gistermiddag gesê dat sy kliënt van die begin af sy volkome samewerking gegee het.
Anders as wat elders berig is, is Scheepers nie in hegtenis geneem op die dag van die voorval nie. Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het gister aan Landbou.com bevestig dat Scheepers nooit aangehou is nie. Hy was covid-19-positief toe die saak aangemeld is.
Dis onduidelik presies wanneer Mofokeng die polisie gekontak het, maar Scheepers het op 12 Januarie by die polisiekantoor op Paul Roux gaan aanmeld toe hy nie meer in kwarantyn was weens covid-19 nie.
Dhlamini sê hy is dieselfde dag huis toe gestuur. Die saak het op 9 Februarie voorgekom en is toe uitgestel tot 13 April.