
Die gemeenskap van Rosendal in die Oos-Vrystaat bedryf sedert Januarie vanjaar 'n sopkombuisprojek om die kinders van die informele nedersetting, Mautse, kos te gee, het Vrystaat Landbou laat weet.
'n Plaaslike aartappelboer, Martin Detering, gee al sy uitskotaartappels vir die projek waardeur sowat 75 kinders in die gemeenskap drie keer per week kos kry. As deel van die projek is sowat 3 ton aartappels aan die einde van Junie uitgedeel.
Detering het gesê die kerk op Mautse, die NG kerk op die dorp, inwoners en boere het mekaar se hand gesterk om die kinders van Mautse te help. Volgens Detering se seun, Tobias, is hulle oorweldig deur die gemeenskapsreaksie. Die nood in die gemeenskap is so hoog dat mense later met emmers en mandjies kom aartappels haal het.
Hulle sal voortgaan om die tonne uitskotaartappels vir die projek te skenk.