’n Boer van Pretoria is glo doodgeskiet terwyl hy en ’n vriend ’n pap band langs die pad omgeruil het.
Luidens ’n berig in Beeld was die 50-jarige mnr. Hans Huyser, gesinslede en vriende op pad huis toe van Sun City af toe die voorval gebeur het.
Huyser, sy vrou, Cindy, sy kleindogter, Jessica, ’n susterskind, Deon Graaf, en mnr. Danie en mev. Chairmaine Niemand moes glo op die N4 naby Brits stilhou om pap bande te vervang. Die twee bande aan die regterkant van Niemand se voertuig is deur ’n slaggat beskadig.
Middernag
Die groep het omstreeks middernag glo onder ’n groot lig op die hoofweg stilgehou om een van die bande te vervang. Terwyl Huyser en Niemand besig was om die bande los te maak, het drie verdagtes glo oor ’n versperring langs die pad gespring. Een van die mans het die groep met ’n vuurwapen gedreig.
Huyser het die verdagte met die vuurwapen glo met ’n domkrag probeer slaan, maar die man het hom drie keer in sy bolyf geskiet. Reddingspersoneel het hom op die toneel dood verklaar.
Bron: Beeld
13 Januarie 2012