
Uiteenlopende reaksie is ontvang na die uitspraak in die landdroshof op Molteno waarin mnr. Armand Aucamp (34) van die plaas Marshmoore tereggestaan het op vergiftiging van 48 kransaasvoëls op 10 Desember verlede jaar.
Hy is deur die Departement Natuurbewaring aangekla vir die onwettige uitplasing van gif (karbofuraan) en die vergiftiging van die aasvoëls nadat rondloperhonde 56 skape op sy plaas doodgebyt het.
Aucamp het in ’n pleitooreenkoms skuld erken op die onwettige uitplasings van die gif, maar skuld ontken dat hy doelbewus die aasvoëls wou vergiftig. Landdros Koos Marais van Steynsburg het hom as eerste oortreder ’n boete van R20 000 en 1 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan R10 000 en die gevangenisstraf vir vyf jaar opgeskort is.
Die beskuldigde se pa, mnr. Jan Aucamp, het aan Landbouweekblad gesê hy is verlig dat die saak agter die rug is. “Met die droogte en veldbrande is ons deur ’n moeilike tyd. Die reg het sy gang geloop en ons kan weer met ons lewe voortgaan.”
Mnr. Meyburgh Erasmus, voorsitter van die Molteno distriksboere-unie, sê die boeregemeenskap is tevrede met die uitspraak aangesien dit nóóit Aucamp se bedoelings was om die aasvoëls te vergiftig nie. “Ons beskou dit egter ook as ’n waardevolle les en gaan van die landbou-unie se kant alles in ons vermoë doen om boere op te voed oor die uitplasing van gif en die belangrikheid van aasvoëls in die natuur. Armand het reeds aangebied hiermee te help,” het Erasmus gesê.
Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, sê in ’n sterk bewoorde verklaring dat “die uitspraak ’n simptoom is hoe min die gemeenskap vir spesies omgee wat aan die hand van misdadigers en die wangebruik van gifstowwe uitwissing in die gesig staar.”
Verdoorn sê dit is ook duidelik dat die wetgewing wat die beheer van gifstowwe reguleer, heeltemal ontoereikend is aangesien oortreders slegs ’n maksimum boete van R1 000 en/of gevangenisstraf van twee jaar opgelê kan word. “Ek het reeds twee weke gelede ’n formele skrywe aan die Minister van Landbou gerig om spoedeisend die aanwending van gifstowwe ingevolge Wet 36/1947 en die vonnisse wat opgelê kan word te hersien.”
Verdoorn het aangedui hy tans in gesprek met sy regsverteenwoordigers is om moontlik ’n siviele saak teen die oortreder in te stel. “Ek kan nie toelaat om te sien hoe aasvoëls aan die hand van indiwidue wat plaagdoders blatant misbruik, uitgewis word, sonder om nie ’n helse geveg op te sit nie.”
Me. Kate Webster, ’n van die plaas Rookwood by Queenstown wat die ontdekking gedoen, nadat sy die vorige dag deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) in kennis gestel is dat een van hulle gemerkte aasvoëls nie met GPS-toerusting enige beweging toon nie, meen die ligte vonnis sal nie as afskrikmiddel dien nie. “Ek is teleurgesteld dat die versoek dat die boetegeld vir die rehabilitasie en monitering van aasvoëls aangewend word, nie deur die landdros toegestaan is nie.”