‘n Boer van Mafikeng het ‘n ultimatum van die Dierebeskermingsvereniging ontvang nadat diere op sy plaas naby Amersfoort verhonger het.
Luidens ‘n berig in Beeld (5 September 2011) was die organisasie verlede week met mnr. Pule Mutloane, die eienaar van die plaas Hartebeesfontein, oor die kwessie in verbinding.
Die organisasie het op 114 verhongerde en sieklike Bonsmara- en Drakensberger-beeste afgekom. Vier van die diere moes onmiddellik van kant gemaak word. Altesaam 12 diere het reeds voor dié besoek gevrek.
Hul eie lot
Volgens me. Jenneth Geel, senior inspekteur van die DBV in die Hoëveld, het die twee veewagters op die plaas aangedui dat die eienaar hulle aan hul eie lot oorgelaat het. Die twee moes glo net seker maak dat die diere nie gesteel word nie.
Volgens dr. Adolf Makotose, ’n staatsveearts, is die meeste van die diere met parasiete oortrek. Lewerslakke is in van die dooie diere gevind. “Dit is as gevolg van algehele slegte bestuur en die verwaarlosing van die diere oor die twee jaar.”
Omgewing se boere help
Geel sê die oorblywende 98 diere is in so ‘n swak toestand dat hulle nie na ‘n ander plaas vervoer kon word nie. Boere in die omgewing het die organisasie gehelp om die diere te voer met behulp van voerskenkings.
Geel het glo aan Mutloane gesê die situasie moet voor 12 September aansienlik verbeter of sy gaan al die oorblywende beeste doodskiet.
Sy sê Mutloane sê sy seun, Sheshe, is die bestuurder op die plaas. Sheshe sê weer hy het net sy pa tydelik uitgehelp. Mutloane het wel aan die koerant aangedui dat hy nie kommentaar wil lewer nie en dat hulle die probleem sal aanspreek.
Bron: Beeld
5 September 2011