Twee mans wat hy glo geken het, het Dinsdag (3 Januarie 2011) saam met twee ander verdagtes in die hof verskyn vir die moord op mnr. Thomas Ferreira.
Ferreira was die einaar van die Shell-vulstasie by Tom’s Place en het op die plaas Riversford naby Bloemfontein met Bonsmaras geboer. Hy is op 26 November herhaaldelik deur sy plaashuis se kombuisdeur geskiet.
Hy het daarin geslaag om sy aanvallers af te weer en het in ’n swaargewonde toestand by sy plaaswerkers se huise gaan hulp soek. Hy het egter in ’n voetpaadjie sowat 10 m van die werkers se huis af gesterf. Slegs Ferreira se selfoon is tydens die plaasmoord gesteel.
Moord en roof
Mnre. Thabang (Thabo) Mabule (49), Johannes Mafeku (36), Hendrik van Schalkwyk (34) en Roger Siyate (35) het in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof, berig Volksblad.
Mabule is ’n sakeman van Bloemfontein en het glo gereeld by Ferreira se Shell-vulstasie aangegaan. Van Schalkwyk het glo op bure se gasteplaas gewerk. ’n Vyfde verdagte vir die moord is nog soek.
Die beskuldigdes is kort voor Nuwejaar in hegtenis geneem.
Bron: Volksblad
4 Januarie 2012